Video
RUGBY NUUS EN VIDEO - Groot drama het Saterdagaand, 16 Augustus, ná afloop van die wedstryd tussen Bridgton en Evergreens op Die Plate afgespeel toe die skeidsregter deur ’n groep Bridgton-ondersteuners aangerand is.
Spelers en toeskouers van Evergreens is ook aangeval, terwyl verskeie voertuie van dié klub se ondersteuners met klippe gegooi is.
Spelers, bestuurslede en sekuriteits¬personeel van Bridgton het probeer ingryp, maar kon nie die woedende skare tot bedaring bring nie.
Verskeie spelers van beide klubs het skeidsregter te hulp gesnel, hom omring en na veilige plek geneem.
Lede van die polisie se openbare orde polisie-eenheid (Pops) is ontbied om die situasie onder beheer te kry. Evergreens-spelers, bestuurslede en ondersteuners wat binne die sportveld parkeer het, moes onder polisiebegeleiding deur ’n alternatiewe uitgang die sportgronde verlaat.
’n Besluit deur die skeidsregter in die doodsnikke van die wedstryd het waarskynlik tot die chaos gelei.
VIDEO: Verskaf, Neville Prins
Bridgton het die bal by die kantlyn uitgeskop nadat die speler na bewering ingelig is dat die speeltyd verstreke is.
Die skeidsregter het egter gesê daar is nog twee minute oor en ’n lynstaan aan Evergreens toegeken, waarna hulle in die laaste minuut ’n drie gaan druk het. Kort daarna is die wedstryd afgeblaas.
Die eindtelling was 33-31 vir Evergreens.
Beide spanne ding mee in die SWD Top 8 Superliga.
Deon Stoffels, voorsitter van Evergreens, sê hulle betreur die voorval. "Die skare het die veld betree en die skeidsregter is deur spelers van beide klubs en die bestuur van Bridgton van die veld na veiligheid gelei. Die skare het op die skeidsregter afgestorm en die mense wat hom omsingel het. Bridgton se bestuur het gehelp om skeidsregter na veiligheid te bring waarna ons die medics ook gevra het om hom te behandel. Een van Evergreens se ondersteuners is deur die woedende skare na die grond geskop en geslaan. Daar was egter na die tyd steeds skermutselings. Ek myself het die polisie gekontak en gevra vir nog versterking, want ons het bedreig gevoel. Van die ondersteuners se voertuie en die taxi's waarmee ons spelers vervoer is, is met klippe gegooi. Ons is by die veld se noordelik hek uitneem en moes deur die dorp na veiligheid geneem word," sê Stoffels.
George Herald het navrae aan Bridgton ook gerig. Hul kommentaar word afgewag en sal bygevoeg word sodra dit ontvang is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’