FIETSRY NUUS - Oud-Kwagga Arnold Barnardo, het oor die naweek van 22 Julie die Suid-Afrikaanse meesterstitel ingepalm in 'n fietsrenreeks wat oor vier wedrenne beslis is.
Die laaste wedren het by Cascades in Pietermaritzburg plaasgevind en die vorige wedrenne is by Coetzenburg in Stellenbosch, Thaba Trails in Johannesburg en Koedoeslaagte in Parys gehou.
Barnardo het in die meesterskategorie (50 - 60 jaar) in al vier wedrenne gewen en so weggestap met die Suid-Afrikaanse titel vir toppresteerder in sy afdeling.
Hy verteenwoordig sy span VBBA/ Bestbike. VBBA is sy argitekspraktyk se naam, Van Biljon Barnardo Argitekte in Tygervallei, Kaapstad.
Foto: Verskaf
In hierdie reeks wedrenne neem die topfietsryers deel langs tegniese en uitdagende roetes om te sien wie die beste in die land is. Die deelnemers neem deel in hulle ouderdomskategorieë en hulle posisie in elke wedren dra by tot 'n puntetelling oor al vier die wedrenne wat gehou word.
"Elke wedren begin effektiewelik alles weer van voor af. Jy moet ’n strategie hê hoe om die wedren te benader, jou opponente te uitoorlê en dan natuurlik seker te maak dat jy op die fiets bly en jouself en die fiets in een stuk oor die eindstreep kry," sê Barnardo.
Daar is afgebakende tegniese bystandareas waar deelnemers kan stop vir hulp. Indien daar wel ’n tegniese insident op die roete is, is die deelnemer oorgelaat aan sy eie hulp en tegniese vernuf om die fiets weer aan die rol te kry.
Elke roete het sy eie kenmerkende tegniese uitdagings en verskil van mekaar. Al die wedrenne se reëls en regulasies is onder die vaandel van CSA (Cycling South Africa) en is ook onderhewig aan die Union Cycliste Internationale (UCI) se reëls.
Soos met elke wedren en ook tydens die opwarmrondes was daar beserings waarby party ryers hulleself noodlottig beseer het. Hierdie hoë intensiteit sport is nie net stremmend op die atlete nie, maar vereis ook senuwees van staal om so vinnig as moontlik deur die tegniese obstruksies in die wedren te ry. Die uitdaging wat baie ryers ook in die gesig staar, is die vermoeidheid van reis na en van die wedrenne wat landwyd plaasvind.
2 Junior Kwaggas presteer
Twee junior Kwaggas het ook by die ander wedrenne in die reeks gepresteer. Cronjé Beukes, wat in die junior mansafdeling deelgeneem het, het 'n 4de plek behaal in die SA XCO #1 en 5de plekke in die SA XCO #2, SA XCO-kampioenskap asook die African Continental Champs.
In die SA XCO #1 het Hannie Vreken 5de in die junior dogtersafdeling geëindig.
Arnold Barnardo se trofee en medalje.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’