Dit was 'n absolute deurbraak deurdat 43 wêreldrekords in die 26 sport-soorte wat aangebied is, verbeter is, en ook 'n deurbraak deurdat verskeie nuwe grense in menslike vermoëns oorgesteek is.
Londen 2012 het 'n mens opnuut onder die indruk gebring dat daar eintlik geen grense aan menslike prestasies is nie, en dat die mens tot alles in staat is as sy/haar wil, sielkundige ingesteldheid, geestelike drif en fisiese vermoëns op dieselfde raaklyne tref op die dag wanneer dit tel - in die sportarena tydens 'n Olimpiese finaal. Dit was my besondere ervaring toe ek tydens die Spele in die Olimpies hoofstadion in Stratford, Londen gesit het toe drie grense, wat as feitlik menslik onmoontlik beskou is, oorgesteek is.
Dit was eerstens in die 800 m vir mans, waar David Rudisha van Kenia die eerste atleet was wat 1min 41sek oortref het toe hy 'n nuwe wêreldrekord van 1:40:91 opgestel het.
Die Amerikaanse vrouespan het in die 4 x 100m-afloswedloop die eerste keer die 41,0sek grens oortref met 'n nuwe wêreld-rekord van 40:82, terwyl die Jamaikaanse mans in die 4 x 100m-afloswedloop die ma-giese grens van 37,0sek oorgesteek het, en 'n briljante nuwe wêreldrekord van 36,84sek behaal het.
Die naellope en ander hardloopnommers, van die 100 m tot die 400 m, die hekkies en die middel- en langafstande, het vele klassieke stryde en talle nuwe helde en heldinne opgelewer.
Bolt en Blake, Allison Felix en Mo Farah, David Rudisha en Jessica Ennis, Fraser-Price en Carolina Jeter - so kan 'n mens die helde op die baan in Londen een vir een opnoem.
Dit was wonderlik om die atmosfeer te kon ervaar van 'n skare van 80 000 wat oorverdowend hulle helde en heldinne aanmoedig in die gees van Olimpiese vrede en medemenslikheid!
Dit was weereens vir my die absolute kern van die Olimpiese Spele, daardie strewe na harmonie tussen mense, en dat sport mense kan oortuig tot vreedsame naasbestaan en intense afhanklikheid van mekaar.
Suid-Afrika het relatief goed presteer, en as leidende land in Afrika sy beste posisie sedert terugkeer na die Spele in 1992 ingeneem. Dit op sigself is positiewe nuus. Die ander kant is dat ons soms onder die druk van die Spele-verhoog nog dinge doen wat ons eerder moes gelaat het.
Wat ons ook baie op hierdie Spele gekos het, is atlete wat afrigters verlaat en met nuwe afrigters nie die mas kan opkom nie. Daar is baie min topafrigters wat vandag nog topatleet is, en môre topafrigter.
Die meule moet eers maal, en die mens-mens verhoudinge neem jare om te bou. Dit sien ons in die 800 m vir vroue se uitslag, en selfs in heelwat ander nommers in Suid-Afrika se geval. Baie van ons topsportlui spring te veel van een afrigter na 'n ander.
Die algemene organisasie en vervoer en ander reëlings in Londen het hierdie Spele uniek gemaak, wat 'n nuwe standaard vir professionele sportaanbieding daargestel het. Dit het beslis gewys waarvandaan moderne sport sy geboorte en ontwikkeling ontvang het - Brittanje is nog steeds 'n land wat kan presteer as dit moet, en Britse presiesheid en optrede om daar te wees wanneer dit nodig is, maak die land 'n navolgenswaardige voorbeeld vir ons almal wat by professionele sport betrokke is.
Londen 2012 was my derde moderne Olimpiese Spele in bywoning, en was opnuut 'n teken dat sport, soos in die Olimpiese Spele verweef, die mens tot beter dinge, beter omstandighede en beter menswees kan inspireer!

Abrie met die Tower of London in die agtergrond.
(Abrie is 'n bekende sportafrigter en lektor in Sportopvoedkunde aan die NMMU, George.)