GEORGE NUUS - Dit was 'n woelige naweek op die Kwaggas se sportterrein met hul 101-jaar Sportfees wat skole van verskeie provinsies na George gelok het vir twee dae van aksie.
Busse met jong sportlui, ouers en afrigters het verlede Vrydag, 8 Maart, hier aangekom, van so ver as Noord-Heuwel in Krugersdorp, Hoërskool Framesby in Gqeberha en talle vanuit die Boland en Kaapse-omgewing.
Altesaam 66 rugbyspanne, 38 netbal-spanne, 26 hokkiespanne, tennis- en muur-balspanne het meegeding op Kwagga-terrein.
Die hoogtepunt van die geleentheid was die rugbywedstryd tussen Hoërskool Outeniqua en Noord-Heuwel, met beide A-spanne wat kragte gemeet het. Noord-Heuwel het Hoërskool Outeniqua met 28 - 19 geklop.
Reeds met die aanvang van die wedstryd het Kwagga-ondersteuners hul naels gekou.
Die Kwaggas (swart) se A-span het behoorlik les opgesê teen Noord-Heuwel (blou) van Krugersdorp. Foto: Michelle Pienaar
Kwagga-afrigter Abrie Minnie het tydens 'n nabetragting hul teleurstelling met George Herald gedeel. "Ons wou glad nie op so 'n noot afgesluit het nie, maar dit is mos nou maar deel van die spel. Ek glo dat die spelers baie meer geleer het uit hierdie verloor as wat hulle uit 'n wen sou leer," het hy gesê.
"Ons was absoluut ons eie opponent. Ons het soveel ongedwonge foute gemaak, wat glad nie deel is van ons spel nie. Dit was teleurstellend. Ek kan wel vir jou sê die seuns het nooit opgehou fight nie, hulle het karakter gewys deur van 'n 18 - 0 af terug te kom na 21 - 19, met een en 'n halwe minuut speeltyd oor. In plaas van net die bal te hou, het een van die spelers weer 'n fout gemaak, en die ander score die laaste drie - daarom die 28 - 19."
Oeps... daar gaan hy! Foto: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’