GEORGE NUUS - Die 16de Outeniqua Rolstoelwedren (OCC) vir gestremde atlete word op Sondag 18 Februarie in George deur die Disabled Road Race Foundation (DRRF) aangebied.
Ernst van Dyk (foto, een van die top gestremde atlete ter wêreld, sal glans verleen aan die hoogtepunt op die Suid-Afrikaanse sport vir gestremdes se kalender.
“Die OCC bly uniek omdat dit die enigste wedloop van die aard op die sportkalender vir gestremdes in Suid-Afrika is,” sê Van Dyk, een van die 27 deelnemers wat in 2001 aan die eerste OCC deelgeneem het.
Die OCC is vir Ernst ‘n belangrike geleentheid om voor te berei vir die res van die jaar se internasionale wedlope waaraan hy deelneem.
“Ek skop 2018 af met die Dubai-marathon laat in Januarie, wat vir my ‘n aanduiding sal gee van my vorm. Indien ek enige aanpassings in my oefenprogram moet maak, sal ek die resultate daarvan tydens die OCC kan meet.
Kort na die OCC volg die Tokyo-marathon.
“Die Tokyo-marathon is vir my baie belangrik. Die OCC sal ‘n kritiese rol daarin speel om vir my vroeg in die seisoen ‘n aanduiding te gee of ek op die regte pad is om ‘n oorwinning in Tokyo te behaal.”
In April volg die Boston-marathon, waar hy hoop om vir die 11de keer die titel te verower.
Ernst glo die OCC kan ‘n belangrike rol speel in die motivering van jong gestremde atlete.
“Die wedloop bied vir beginners die geleentheid om saam met die beste gestremde atlete ter wêreld deel te neem.
"Sulke blootstelling in ‘n jong atleet se loopbaan kan vir hom van groot betekenis wees omdat dit in hom die droom van internasionale roem kan aanwakker.”
Oor die jare het die OCC vir Ernst talle hoogtepunte en laagtepunte opgelewer.
“Dit was ‘n groot hoogtepunt toe die OCC top internasionale gestremde atlete soos Kurt Furnley kon lok. Om op eie bodem teen die beste ter wêreld mee te ding was vir my en Esther (Watson, stigterslid) van die begin af ‘n droom met die OCC.
"Ek hoop ons sal in die toekoms weer genoeg prysgeld kan kry wat die top gestremde atlete in die wêreld sal laat belangstel.”
‘n Laagtepunt tydens so ‘n wedloop sal maar altyd ‘n pap wiel wees en dit het hom ook al oorgekom.
“Dit is altyd ‘n teleurstelling wanneer ‘n mens so hard voorberei het en dan tref die noodlot jou. Daar is nie veel wat ‘n mens daaraan kan doen nie - jou beurt is jou beurt, maar dit is nooit lekker nie.”
Deur die jare het die OCC aansienlik verander. Hy meen die OCC het verskeie seisoene van ontwikkeling beleef. “Aan die begin was ons net ‘n handjie vol atlete wat in die Outeniquapas weggespring het en maar net gehoop het ons oorleef tot by die eindpunt!”
Mettertyd het aantal deelnemers aan die wedloop tot meer as 1 000 toegeneem. “Dit is nogal besonders,” sê Ernst.
“Daar was tye wat borgskappe skraps was en die toekoms van die OCC in die weegskaal was, maar elke keer het die wedloop tog voortgegaan.”
Hy meen die wedloop is ook toenemend ‘n belangrike item op die kalender van gestremde atlete in Afrika. “Deesdae is dit ook vir hulle ‘n hoogtepunt.”
Soos met enige ander sport is borgskappe van die allergrootste belang. “Sonder borgskappe gebeur daar niks.
"Ek dink die wedloop neem nou ‘n stap in die regte rigting deur meer professioneel te raak met ‘n toegewyde span organiseerders, wat weereens nie sonder borgskappe moontlik sou wees nie. Ons is die borge ewig dankbaar.”
Kontak Alewijn Dippenaar by 082 457 5675 of dyndev@mweb.co.za vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'