Gallery
GEORGE ATLETIEKNUUS - As jy op 'n weeksdag skuins na 17:00 verby die sportveld van Van Kervel-skool ry, sal jy 'n bejaarde egpaar, Jurgens en Mari Zwiegelaar sien wat kinders help met atletiekafrigting. Hulle doen dit gratis en ploeg hulle eie jare lange ervaring en kennis van die sport terug tot voordeel van die gemeenskap.
Jurgens en Mari, wat beide 70 jaar oud is, help kinders met baanitems en landloop. Soms offer hulle ook Saterdae op tot voordeel van die kinders. Van die jong atlete wat by die Zwiegelaars oefen het al op nasionale vlak presteer.
Hulle is beide bekend in atletiekringe en Jurgens het al Meesters Springbok-kleure in atletiek verwerf. In die verlede het hy ook die Comrades gehardloop en voltooi.
Dit 'n lang pad wat die egpaar in die atletiekwêreld geloop het. In 'n stadium het die egpaar byna elke dag minstens 10 km gehardloop.
Jurgens het vertel dat hy in die verlede mededingend aan atletiek deelgeneem het. Die laaste keer dat hy die Comrades gehardloop het was in 2010. Daarna moes hy 'n operasie ondergaan en hy kon nie meer mededingend hardloop nie. Hy het egter steeds by atletiek betrokke gebly.
Mari het ook mededingend gehardloop en ook onder meer aan halfmarathonne deelgeneem. Sy het vir baie jare ook 'n oefengroep gehad waar sy mense gehelp het om fiks te word.
Beide Jurgens en Mari het oor die jare ook deur afrigting teruggeploeg en was onder meer betrokke by Kretzenshoop Primêr en Heidedal Primêr.
Die Zwiegelaar-egpaar, Mari en Jurgens.
Die laaste tyd het hulle met die oefengroep op die sportveld van Van Kervel-skool begin. Dit vind gewoonlik van Maandae tot Vrydae van 17:00 tot 18:30 plaas. Gewoonlik is daar tussen 8 tot 10 kinders en soms selfs tot 30. Die doel is om die kinders fiks te kry vir deelname.
Die ouers bring hul kinders. Die benadering is dat die kinders dit moet geniet, maar hulle is nie daar om te speel nie.
Enigiemand is welkom en ouers moet nie te hoë verwagtinge hê nie. Dit hang van die kinders self af.
Volgens hulle het van die kinders beslis atletiektalent. Altesaam vyf van hulle het deelgeneem aan die Wes-Kaapse laerskoolbyeenkoms in die Paarl en drie aan die SA laerskoolbyeenkoms in Germiston.
Mari Zwiegelaar (tweede van links) gesels met van die jong atlete voor die begin van 'n oefensessie.
Die Zwiegelaars benadruk hulle doen dit uit liefde vir atletiek en geniet dit. Dit is wonderlik om die kinders se vordering te sien. Hulle kan geld daaruit maak, maar hulle wil nie. Dis hulle manier om dankie te sê vir 'n sport waaruit hulle baie vreugde put.
Volgens Mari is sport belangrik in 'n kind se fisiese en geestelike ontwikkeling. "Daai uur of twee maak 'n kind se kop oop."
Hulle sal voortgaan daarmee solank moontlik. Sarel Kruger, 'n ouer wie se kinders daar oefen, het vertel dis goed vir die kinders. "Dis beter vir hulle as om televisie te kyk."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'