GEORGE NUUS - Ofskoon die verkiesing eers op 29 Mei plaasvind is verteenwoordigers van politieke partye reeds hard aan die werk om kiesers te probeer oortuig om vir hulle te stem.
Partye span hul groot kanonne in en een van die eerstes om die gebied te besoek was Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Hy het verlede Woensdag, 27 Maart, Oudtshoorn besoek, maar eers met George Herald by die George-lughawe gepraat.
Groenewald is op die oomblik een van die mees ervare politieke leiers. Hy is in 1989 in die vorige politieke bedeling tot die Volksraad verkies en het in die nuwe bedeling aan elke nasionale en provinsiale verkiesing deelgeneem.
Die VF Plus is op die oomblik saam met byvoorbeeld die DA deel van die Veelpartyhandves. Die lede neem elkeen op sy eie deel aan die verkiesing, maar hoop om na die verkiesing genoeg gesamentlike steun te kry om die ANC uit die kussings te lig.
Volgens Groenewald beleef hy dit dat mense wil gaan stem. "Mense begin besef dat as jy nie gaan stem nie, bevoordeel jy die ANC."
Lede van die Veelpartyhandves glo die ANC kan uit die kussings gelig word. Daar is goeie verhoudinge tussen die lede en hy glo die lede sal na die verkiesing kan saamwerk.
Hy het gesê in die komende verkiesing gaan dit afhang of die kiesers gaan stem of nie. Hy het 'n beroep op mense gedoen om op kiesdag wel te gaan stem. "Dis die kiesers wat gaan bepaal of die ANC uit die kussings gelig word of nie."
Wat hom betref is koalisies onafwendbaar. Die VF Plus sal beslis nie in 'n koalisie met die ANC of die EFF gaan nie. Voorts ook nie as pres. Cyril Ramaphosa kom met 'n voorstel van 'n Regering van Nasionale Eenheid (RNE) nie. Dis soos in 1994 toe onder meer die ANC en die destydse NP so 'n regering gevorm het.
Langa Langa, distrikssekretaris van die SAKP het namens die ANC se plaaslike verkiesingspan kommentaar gelewer.
Hy het gesê die ANC beplan om Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, teen die einde van die maand na Mosselbaai en Bitou te bring. Dis ook moontlik dat adj.pres. Paul Mashatile 'n draai in die gebied kan maak.
As geen party 'n volstrekte meer-derheid in die Wes-Kaap behaal nie, sal die party, net soos ander partye kyk om moontlik met ander partye saam te werk om 'n regering te vorm.
Die ANC sal eers na die verkiesing sy premierskandidate bekendmaak.
Christo Alexander van die PA in George, het gesê die party beskou die Tuinroete as baie belangrik.
Die PA het onlangs sy provinsiale verkiesingsmanifes in George bekendgestel. Gayton McKenzie, die PA-leier, is ook die party se premierskandidaat in die Wes-Kaap.
Jackie von Brandis, die DA se verkiesingsbestuurder in George, het gesê die party beplan ook verskeie aktiwiteite.
Op 11 April besoek Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, George onder die DA-vaandel. Op dieselfde dag besoek dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou George in sy amptelike hoedanigheid.
Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, sal George ook in 'n stadium besoek.
Lees verwante artikels hier:
Gayton McKenzie, die PA-leier, is ook die party se premierskandidaat in die Wes-Kaap. Die party het onlangs sy provinsiale verkiesingsmanifes in George bekendgestel.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’