GEORGE NUUS - Moenie verbaas wees as die George-stadsraad en die Tuinroete-distriksmunisipaliteit na 29 Mei nuwe politieke leierskap moet kies nie.
Die verkiesing vir die nasionale en provinsiale regeringsfere vind op daardie dag plaas en kan 'n groot impak hê op hoe dinge uiteindelik in George en die distriksmunisipaliteit ontvou.
George-burgemeester Leon van Wyk en sy eweknie by die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, Memory Booysen, is beide in verkiesbare posisies op die DA se kandidatelys vir die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer.
Dit is ook nie uitgesluit dat 'n nuwe onderburgemeester vir die distriksmunisipaliteit verkies sal word nie, want adv. Gert van Niekerk, die huidige onderburgemeester, is ook in 'n verkiesbare posisie op die VF Plus se lys vir die provinsiale wetgewer.
Burgemeester van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, Memory Booysen
Van Wyk beklee die 15de posisie op die DA-lys en Booysen die 23ste posisie.
'n Vertroueling van Van Wyk, Dirk Wessels, is in die 25ste posisie.
Dit word ook as 'n verkiesbare posisie beskou. Hy is ook in 'n verkiesbare posisie op die lys vir die nasionale vergadering.
Dirk Wessels
Van Wyk en Wessels word beskou as die argitekte van die nuwe finansiële bedeling wat die laaste paar jaar in George-stadsraad gevestig is.
In sekere politieke kringe is kommer dat 'n vakuum kan ontstaan as Van Wyk en Wessels saam die stadsraad verlaat.
Ingeligtes het daarop gewys dat Van Wyk en Wessels nog hoër op die lys kan wees as van die ander DA-lede ander opsies uitoefen om eerder na die nasionale vergadering te gaan as die wetgewer.
Adv. Gert van Niekerk
Van Niekerk beklee die 3de posisie op die VF Plus se lys vir die wetgewer.
Na verneem word sal daar 'n bepaalde proses in die DA gevolg word as daar 'n vakature ontstaan vir die burgemeesterskap. Van Wyk het Dinsdag 2 April bevestig dat hy op die DA-lys vir die provinsiale wetgewer is.
Volgens hom moet onthou word dat as iemand verkies word, dit die kandidaat se opsie bly om dit te aanvaar of nie.
Wessels het bevestig dat hy op beide lyste is. Dis beide verkiesbare posisies.
Hy het homself verkiesbaar gestel omdat hy dit as 'n geleentheid beskou, en ook om homself te meet teenoor die groter prentjie. En wat sal hy doen as hy wel tot die wetgewer verkies word? "My riglyn is om in die beste belang van George op te tree," sê Wessels.
Van Niekerk het ook bevestig dat hy op sy party se lys vir die wetgewer is. "Ek wil nie dinge vooruitloop nie. Kom ons wag vir die verkiesing.
"Al word ek verkies, is dit my prerogatief of ek dit wil aanvaar of nie."
Lees 'n verwante artikel:
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’