Update
GEORGE NUUS - Die opposisie se ongelukkigheid met die hantering van raadsvergaderings deur die speaker van die stadsraad, Sean Snyman, het Dinsdag 29 Maart verder uitgekring.
Die PBI dreig nou dat as daar voortgegaan word om die "regte van raadslede te ignoreer" sal die party 'n dringende hofaansoek bring om die "relevante uitkoms" te verseker.
Snyman sê egter hy verhoed slegs dat raadsvergaderings in 'n politieke sirkus ontaard en het ongelukkige raadslede aangemoedig om die formele prosesse in plek te volg om klagtes teen hom te lê.
Dit kom na spanning tussen die PBI, Good en Snyman Maandag oorgekook het na aanleiding van 'n raadsvergadering verlede Vrydag, 25 Maart.
Dit blyk dat die spanning al 'n rukkie aankom met lede van die partye wat voel dat Snyman glo agter die ordereëls skuil om vryheid van spraak ten koste van dienslewering te onderdruk.
Donovan Saptoe van Good (links) en Virgill Gericke van die PBI probeer Maandag toegang tot die munisipale kantore kry.
Protesaksie
Lede en ondersteuners van die PBI en Good het Maandagoggend by die munisi-paliteit aan 'n protesaksie deelgeneem. Hulle het plakkate gedra waarop onder meer gestaan het, "Ons het die reg om te praat in raadsvergaderings", "Ons vra vir ons mense, moenie ons muilband nie" en "Die speaker vertrap ons vryheid van spraak."
Die geleentheid is deur senior lede van die partye se leierskorps bygewoon waaronder Virgill Gericke van die PBI en Donovan Saptoe van Good. Beide is ook raadslede.
Speaker "op terme"
Luidens die PBI-verklaring wat vroeg Dinsdagaand uitgereik is, het die party 'n dringende brief aan Snyman in sy hoedanigheid as speaker gestuur oor die hantering van hul raadslede in raadsvergaderings.
"Hiervolgens is die speaker op terme geplaas en verbied om enige raadslid van die party te intimideer, viktimiseer of af te sny van die raadsvergaderings. Sy optrede is ongrondwetlik en ontneem raadslede daarvan om hul werk effektief te doen. Hy word daarop gewys dat hy, as speaker, onpartydig moet optree en nie kleinlike partypolitiek bo die van amptelike raadsake stel nie.
"Vryheid van spraak is 'n fundamentele reg en moet gerespekteer word. Die kieser verwag dat raadslede hul belange moet verteenwoordig. Hulle word egter ontneem as hulle elke keer uitgesit word.
"Die PBI sal sy raadslede beskerm teen enige vorm van boelie en afknou en daarom is hy op terme geplaas. Indien hy hierdie skrywe ignoreer en voortgaan om die regte van raadslede te skend, sal die party 'n dringende hofaansoek bring om die relevante uitkoms te verseker."
Gericke het gister (Woensdag) gesê die party volstaan in die stadium met die verklaring.
Ondersteuners van Good en die PBI Maandag tydens die protesaksie in Yorkstraat.
Opposisie gemute
Saptoe het Maandag gesê die opposisie kry nie geleentheid om oor pertinente sake te debatteer nie.
"Dit sluit kwessies rondom dienslewering in. Vergaderings vind virtueel plaas. Wanneer lede van die opposisie wil praat word hulle gemute. Ons is openbare verteenwoordigers. Ons is wetlik verkies en kan nie ons werk doen nie."
Nadat George Herald Maandag navraag gedoen het, het Snyman in 'n verklaring gesê daar kan nie toegelaat word dat raadsvergaderings in 'n politieke sirkus ontaard nie. Daar is formele prosesse wat raadslede kan volg as hulle ongelukkig is en hy moedig raadslede aan om daarvan gebruik te maak.
Donovan Saptoe van Good (links) en Virgill Gericke van die PBI Maandag in gesprek met lede van die polisie voor die munisipale kantore. Foto's: Eugene Gunning
Snyman se volledige reaksie:
"As Speaker, I have recently faced several allegations which include not showing impartiality in presiding over the George Council.
"My role as Speaker primarily entails maintaining discipline in Council and ensuring that councillors represent the interests of their local communities. This is done, inter alia, via ensuring council meetings are conducted in an orderly manner or fashion, in line with Council's Rules of Order and in accordance with items on the agenda whilst also adhering to the Code of Conduct for Councillors.
"Council meetings cannot be allowed to turn into a political circus and I am committed to ensuring we, as elected councillors, uphold the high standards the public expects from us.
"There are formal processes that councillors may follow if they feel aggrieved and I encourage all councillors to use these formal processes."
Vorige artikel: Opposisie partye ongelukkig oor Speaker
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'