Gallery
GEORGE NUUS - Die registrasie van kiesers het verlede naweek sonder enige groot kwellinge in die Suid-Kaap en Karoo-distrik afgeloop. Die lae spoed van hul aanlynsisteem was die enigste tameletjie wat die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) moes hanteer.
Verkiesingsbeamptes het toegang gehad tot 'n aanlyn-kaartfunksie wanneer hulle kiesers se woonadresse nagaan.
Terselfdertyd kon kiesers aanlyn registreer vanuit hul eie huise, en die geweldige hoë volume verkeer het die aanlynsisteem beïnvloed, het die OVK se provinsiale beampte, Michael Hendrickse, gesê.
"Ons het egter gou agtergekom wat aangaan, en die beamptes het eenvoudig dinge soos voorheen met die hand gedoen. Elke persoon wat geregistreer is, is later op die sisteem gelaai. Kiesers ontvang 'n SMS om te bevestig dat hulle geregistreer is.
"Teen Maandagmiddag het die totale hoeveelheid registrasies in die Wes-Kaap op 155 901 mense gestaan. Hierdie getal sluit in diegene wat vir die eerste keer geregistreer het [aanlyn of by 'n stemlokaal] asook die wat herregistreer het. Van hierdie totaal is 72% (33 978) nuwe registrasies van jong kiesers in die ouderdomsgroep 18 tot 29 jaar."
Fotogalery: Registraties van kiesers verloop vlot
Hendrickse het gesê die OVK skep die geleentheid vir mense om te registreer, maar dat dit steeds hulle besluit is om op te daag. Hendrickse het gesê die feit dat die OVK binne twee weke alles in plek moes hê vir die registrasienaweek was baie goeie voorbereiding vir die verkiesing.
"Ek is optimisties en vertrou dat ons, vanuit 'n operasionele oogpunt, al ons stemlokale oop en beman sal hê en dat alle stemgeregtigdes in SA hul stem sal kan uitbring."
Hendrickse en lede van sy span sal eerskomende naweek 'n draai in George maak, waar 'n opleidingsessie vir beamptes van die Suid-Kaap, Overberg en Sentrale Karoo gehou word.
Conville-gemeenskapsaal: Lesley Ruiters (voor, toesighouer), Siviwe Pikelela (areabestuurder) en Diann Galant, registrasiebeampte, slaggereed om kiesers te registreer.
Spesiale stem
Diegene wat wil aansoek doen vir 'n spesiale stem op die naweek van 30 en 31 Oktober kan nou aansoek doen - aanlyn en by die OVK-kantore - tot en met Maandag 4 Oktober.
Hendrickse wil diegene aanmoedig wat weens omstandighede nie op verkiesingsdag, 1 November, by hul stemlokaal kan wees nie, om nie die geleentheid wat 'n spesiale stem bied, te mis nie.
"Dit geld ook vir onder andere gestremdes, bejaardes en swanger vroue," het hy gesê.
EFF-aktivis Hein Scheepers, saam met DA-kiesafdelings-hoof vir George, dr. Mimmy Gondwe, by Rosemoor-gemeenskapsaal, een van die stemlokale vir wyk 6.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'