Update
GEORGE NUUS - Inwoners van Rosedale, Parkdene en 'n gedeelte van Pacaltsdorp kan hulle voorberei op tussenverkiesings wat in elk van hierdie wyke gaan plaasvind.
Dit volg nadat drie DA-wyksraadslede dwarsgetrek het tydens 'n spesiale raadsvergadering en toe hul DA-lidmaatskap verloor het.
Edmund Bussack (wyk 14: Rosedale), Belrina Cornelius (wyk 27: Pacaltsdorp) en Dawid Willemse (wyk 8: Parkdene) is verlede week skriftelik in kennis gestel dat hulle nie meer welkom is by die party nie. Al drie is hul DA-lidmaatskap kwyt - en gevolglik hul amp as raadslede - nadat hulle lynreg teen 'n koukusbesluit opgetree het.
Bussack, Cornelius en Willemse het saam met die ANC teen die besluit gestem om die munisipale bestuurder, Trevor Botha, voorlopig te skors. Verder het hulle ook nie hul steun vir die DA koukus-besluit gegee om die direkteur van gemeenskapsdienste, Walter Hendricks, voorlopig te skors nie.
Provinsiale woordvoerder van die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK), Courtney Sampson, het bevestig dat George-munisipaliteit die verwikkelinge aangemeld het.
Die nuus oor die drie wyksraadslede volg kort op die hakke van Melvin Naik wat twee weke gelede gehoor het hy is uit die DA geskop en sy amp as burgemeester kwyt. Naik was 'n proporsionele raadslid en het nie 'n wyk verteenwoordig nie.
Vrede
Ofskoon hulle 24 uur gegun is om op die party se skrywe te reageer, blyk dit slegs een raadslid, Dawid Willemse, het redes vir sy besluit aan die provinsiale leierskap gestuur.
Bussack het wel verlede week gesê dat hy ook sy redes aan die plaaslike DA-leiers gestuur het.
"Die brief was nie 'n skok nie, ek het dit verwag," het Bussack gesê. Cornelius wou nie kommentaar lewer nie, en Willemse kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Willemse het vroeër die maand sy bedanking as DA-raadslid ingedien. Môre, Vrydag 28 Februarie, sou sy laaste werksdag wees.
ANC-hoofsweep, Nomawethu Jantjies-Gushman, het gesê die driestuks het met hul gewete gestem. "Ons het teen die voorstel gestem, want die klagtes is dieselfde as die vorige keer. Om iemand vir drie maande aan te stel om die munisipale bestuurder se werk te doen beteken ons moet beide betaal, en dit is 'n verkwisting van geld.
"Ons sê nie die ondersoek moet nie plaasvind nie, maar die onnodige koste van 'n skorsing gaan die munisipaliteit se dienslewering beïnvloed."
Die DA se kandidaat vir Parkdene (wyk 8), Johannes (Hansie) Tarentaal.
Voorwaarts
DA-streekvoorsitter, Jaco Londt, het gesê die party berei voor vir die drie tussenverkiesings en het reeds 'n kandidaat vir Parkdene, Johannes (Hansie) Tarentaal aangewys. Tarentaal werk by George-munisipaliteit en is as DA-lid al vir 12 jaar by die politiek betrokke.
"Nominasies vir wyke 14 en 27 sal Maandag 2 Maart open. Ons verwag dat die onderhoude kort daarna sal plaasvind. Die suksesvolle kandidate sal die daaropvolgende week aangewys word," het Londt gesê.
Verwante artikel: DA laat waai met lidmaatskap-byl
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'