GEORGE NUUS - As die George Erfenistrust sy sin kan kry, gaan 'n straat na wyle Andy Lamont vernoem word. Lamont is einde Januarie in 'n hospitaal in George na 'n kort siekbed oorlede. Hy het kanker gehad.
Hy was een van George se bekendste inwoners en het diep spore getrap in onder meer erfenis- en bewaringskringe.
Lamont was in die verlede onder meer burgemeester van die destydse Eden-distriksmunisipaliteit en ook 'n baie bekende gemeenskapsleier. Hy was tot met sy dood voorsitter van die George Erfenistrust.
Die George Erfenistrust het onlangs 'n brief aan dr. Michele Gratz, George se waarnemende munisipale bestuurder, geskryf waarin gevra word dat 'n straat na Lamont vernoem word.
LEES MEER: Bekende leier oorlede
Henry Paine, voorsitter van die George Erfenistrust, skryf dat Lamont 'n beduidende bydrae gemaak het in die gemeenskap van Pacaltsdorp. Hy het ook bygedra om bewusmaking van die ryke geskiedenis van die gebied te bevorder en dit te beskerm.
"In erkenning van sy werk vra die George Erfenistrust dat die George-munisipaliteit 'n straat na dr. Lamont vernoem, wanneer 'n geleentheid opduik," skryf Paine.
Wyle Lamont se eggenoot, Wilma, het Maandag gesê dis 'n wonderlike gebaar van die George Erfenistrust. "Andy was 'n mense-mens." Sy het benadruk Lamont het nie dinge gedoen om vereer te word nie.
Blanche Benjamin, voorsitter van die Gwaiing-aksiegroep, het gesê die organisasie steun die voorstel. "Hy het baie beteken vir die erfenis van Pacaltsdorp en George en hy het baie vir toerisme beteken. Om 'n straat na hom te vernoem, is gepaste erkenning vir sy groot bydrae."
Die nagedagtenis van Lamont leef ook voort in 'n toekenning wat jaarliks deur die George Erfenistrust gemaak word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'