RUBRIEK - Dit was 'n besonder uitsonderlike toneel wat onlangs op 'n Sondagoggend langs 'n kerk in George afgespeel het.
Dis iets wat ek nog nooit voorheen beleef of van gehoor het nie:'n Predikant en die gemeentelede wat na die erediens 'n boom plant.
Ek moet byvoeg: Dit was nie sommer net 'n boom wat dr. Steve van der Walt en lede van die NG Moedergemeente George die oggend van 21 Augustus geplant het nie. Dit was 'n boom van hoop.
Die boomplantery het 'n lang aanloop gehad. 'n Oplettende inwoner, Allison Holiday het 12 akkers van 'n geskiedkundige boom in April 2107 raakgesien en opgetel. Sy het van dit aan die groei gekry. Min het sy toe geweet wat uiteindelik sou gebeur.
Die geskiedkundige boom is reeds in 1884 geplant maar is 'n paar jaar gelede deur die stompkopkewer en sy simbiotiese swam aangeval. Dit moes toe uiteindelik in 2020 afgekap word.
Net twee van die boompies wat uit ontkieming van die akkers ontstaan het, het dit gemaak en Holiday het dit aan die kerk geskenk. Dis een van die boompies wat die dag 21 Augustus geplant is.
Saterdagmiddag, 20 Augustus het ek boodskap van dr. Van Walt gekry waarin hy my uitnooi om die volgende oggend die boomplantseremonie by te woon. Dit sou omstreeks 10:00 begin.
As ek wou kon ek om 9:00 die erediens bywoon. Vroeg die volgende oggend het ek opgestaan en terwyl ek klaar gemaak het, het ek die sirene van 'n noodvoertuig gehoor. Later het ek polisievoertuie en 'n ambulans gesien wat in die straat in ‘n oostelike rigting gejaag het.
Met my vertrek kerk toe het ek eers gaan kyk wat aan die gang is. 'n Entjie verder het ek op die noodvoertuie en geel polisielinte voor 'n huis afgekom. Dit blyk toe dat 'n egpaar vroeg daardie oggend in hul huis aangeval en beroof is. Uiteindelik het dit swaar op my gemoed gerus toe ek kerk toe ry.
Ek was 'n hele rukkie te vroeg en ek het agterlangs in die kerk gaan sit. Soos dikwels in die verlede het ek my verwonder aan die kerk wat al in 1842 ingewy is en 1906 herbou is. My geheue het ook met my begin gesels oor die verlede.
Dis die kerk waar wyle pres. PW Botha seker dikwels gekom het. Hy was immers LV vir George. Wat het hy gedink as hy dalk ook so gewag het voor 'n erediens begin? Hy was in stadiums ook minister,eerste minister en president.Was hy bekommerd oor die land se toekoms? Het hy hoop gehad?
Ek het ook gedink aan my ouma aan moederskant. Sy het baie, baie lank gelede belydenis van geloof daar afgelê. Sy sou seker nooit kon droom dat 'n kleinseun van haar eendag daar sou sit nie.
Sy en my oupa wat later uit die destydse Port Elizabeth met hul klein dogtertjie (my ma) 'n heenkome in die destydse Transvaal gaan soek het. 'n Soeke waarskynlik na 'n beter lewe. Hulle het seker hoop gehad anders sou hulle nooit gegaan het nie.
En ek wat uiteindelik na vele paaie op die soms onvoorspelbare lewenspad juis hier in George beland het.
Kort na 10:00 het ek saam met die gemeentelede na buite gestap.Hulle was nie skaam om dr. Van der Walt te help om die boom te plant nie. Selfs van die kinders het nader gestaan.Hulle het gehelp en gewys daar is hoop vir die toekoms in die jeug.
Dr. Van der Walt het gesê daar is dankbaarheid dat die Here die twee boompies waarvan een die Sondag geplant is, op 'n besonderse manier gegee het. "Mag ons altyd weet dat die Here by ons is en ons groei omdat Hy dit moontlik maak."
Later die dag het ek 'n entjie gaan ry. Met die Outeniquapas op tot hoog op in die Outeniquaberge.
By een van die uitkykpunte het ek gestop. In die verte was George. Daar waar die bose misdaadvoorval vroeg die oggend plaasgevind het. Maar ook daar waar 'n paar uur vroeër 'n boom van hoop by die kerk geplant is.
Daardie boom wat groei en lewe. Wat groter gaan word en 'n doel gaan dien.
Die besef het hy my kom vassteek: Ons moet "hoop plant".
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'