RUBRIEK - Na 'n lang afwesigheid wil ek graag die week hierdie platform gebruik om iets baie persoonlik met ons lesers te deel, 'n getuienis lewer van die lewende God wat ons dien.
Ek en my familie is verlede week en die afgelope naweek deur 'n moeilike tyd nadat my middelsuster, Monique, ernstig siek geraak en vir haar lewe in 'n Kaapse hospitaal geveg het.
Monique is 'n jong ma van twee pragtige seuntjies en die mooiste mens van binne en buite. Sy is 'n paar jaar gelede met kanker gediagnoseer en daarmee saam het 'n geloofsreis vir my begin.
Daardie Vrydagoggend in 2018 sit ek op kantoor terwyl ons wag vir Monique se uitslae ná haar chemosessies en kry ek die behoefte om met die Here in Sy huis stil te word en te bid.
Met verskeie kerke wat gesluit was, eindig ek op by die NG Moederkerk. Die kerk was ook gesluit, maar daar sien ene Oom Chris my raak en roep my nader. Sonder om veel te sê, sluit hy die kerk oop en kon ek 'n rukkie daar binne gaan sit.
In my droefheid stap ek na 'n rukkie na die preekstoel en kry 'n Bybel daar met 'n wit blaai binne-in. Toe ek dit oopmaak by die blaai, is dit by die boek van Matteüs 4 vers 23: "Hy het toe in die hele Galilea rondgegaan en die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak." So openbaar die Here Hom vir die eerste keer aan my.
Nou ja, ek het ook Sondagskool geloop, kerk toe gegaan … maar dié was iets anders, iets baie meer. Ek het 'n verhouding met die Here begin.
En verlede week het die Here weer opgedaag en afgeshow vir ons – dit was ongelooflik. Want in daardie hospitaal waar ons as gesin, familie en vriende geskok, hartseer en bekommerd was, het die Here kom wys Hy kom sy beloftes na, want dit wat ons Hom in gebed vra, sal Hy vir ons gee. Gebedsgroepe uit alle geloofsgroepe, van mense wat ons nie eens ken nie, is begin, selfs deur die hospitaalpersoneel.
Op 'n stadium vee ek met 'n servet koffiekolle van die tafel in een van die konsultasiekamers af en my bors raak so benoud. Ek begin bid en vra vir God vir 'n teken dat alles oukei gaan wees.
Maar ek sê ook in my gesprek met Hom dat ek nie in Hom twyfel nie, maar sê dat ek 'n sondige mens is en daar tans so baie aan die gang is. Ek vra vergifnis vir my swakheid en ek vra vir 'n teken.
Toe ek uitstap in die gang, kom Monique se predikant op sy krukke uit die waakeenheid en sê hy sy het haar bene beweeg, haar oë oopgemaak en sy gaan oukei wees. Kort daarna kom Monique se skoonsussie en haar man ook by die hospitaal aan.
Hulle vertel hulle het sopas teen 'n gebou die teksvers gesien uit Johannes waar die Here sê: "Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen." Nou ja, ek het gevra vir 'n teken en dit op verskeie maniere van familie en vriende deur boodskappe ontvang.
Net daar lê die Here dit ook op my hart dat ek Sy wonderwerke nie net met my vriende en familie deel nie, maar met soveel mense as wat ek kan. En daarom gebruik ek vandag my rubriek.
Ek wil vir almal, elke liewe persoon wat gebid het, hartlik dankie sê. Ook aan die personeel van die Life Vincent Pallotti-hospitaal vir die sorg wat Monique ontvang en hulle ondersteuning aan die familie.
Monique is Maandag van die ventilator afgehaal en raak elke dag bietjie beter en sterker. Vir 'n beter verjaarsdaggeskenk kon ek nie vra nie.
Ons leef in moeilike tye en die wêreld is deurmekaar. Ek deel vandag hierdie met julle om hoop te skep en te verkondig dat ons 'n lewende God dien en ek wil getuig dat gebed krag dra. Matteüs 21:22 sê: "Alles wat julle in die gebed van God vra, sal julle ontvang, mits julle glo."
Mooi loop!
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'