Update
GEORGE NUUS - Die sewe mans wat daarvan aangekla is dat hulle in 2017 'n man van Rosedale, Gershwin Verlaat (22) vermoor het, is ná 'n uitgerekte hofsaak van byna vyf jaar, op Woensdagoggend, 19 Oktober, in die George-streekhof onskuldig bevind.
Vier van dié beskuldigdes, Charldon Heynes, Marlen Wildeman, Kesharne Mostert en Brenton Pato is ná meer as twee jaar in aanhouding, op Donderdag 27 Februarie 2020 op borgtog van R1 000 elk vrygelaat.
Hulle was toe reeds in aanhouding sedert hul inhegtenisname kort ná die voorval op 2 Desember 2017.
In Junie 2018 is nog drie verdagtes, Kenneth Windwaai, Eswyn van Rooyen en Michael Campher in hegtenis geneem. Windwaai is op borgtog vrygelaat.
Van Rooyen en Campher het albei tot hul vrylating Woensdagoggend, in aanhouding gebly.
Die mans, almal tussen die ouderdomme van 25 en 35, is aangekla van moord met voorbedagte rade en/of moord in die uitvoering van 'n gesamentlike doel deurdat hulle glo deel was van 'n groot groep mans wat vir Verlaat met verskeie skerp voorwerpe en onwettige wapens aangerand het.
Verlaat se liggaam is met ernstige kopwonde in Genesisstraat, Rosedale gevind.
Die beskuldigdes se regsverteenwoordigers, Clayton Samson en Winston Jansen van Jansen en Samson-prokureurs, was uit die aard van die saak in die wolke oor die uitspraak.
"Die landdros het al die getuienis ontleed en bevind dat daar wesenlike verskille was en hy kon nie daarop staatmaak om te bevind dat die beskuldigdes inderdaad deel was van die groep mense wat die oorledene aangerand het nie," het Samson ná hofverrigtinge gesê.
Die staat kon dus nie bo redelike twyfel bewys dat die beskuldigdes skuldig is aan moord of enige ander misdryf nie. Die hof het ook gesê die staat het onbeperkte bronne gehad om beter getuies te kon kry.
"Uit die aard van die saak is ons tevrede met die uitspraak. Ons is beïndruk met die manier hoe die hof die getuienis presies verstaan het soos wat ons geargumenteer het. Van die beskuldigdes het meer as twee jaar van hul lewens verloor omdat hulle in aanhouding was. Geen geldelike vergoeding kan daarvoor opmaak nie, maar ons is verlig dat geregtigheid, al was dit vertraag, uiteindelik geseëvier het," het Samson gesê.
Die saak het voor landdros Praglathan Govender gedien en Aspirito White was vir die staat.
Plaaslike prokureur, Clayton Samson, saam met die sewe jong mans wat Woensdagoggend onskuldig bevind is.
Vorige artikel: Rosedale-moordsaak: 4 kry borgtog na 2 jaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete'