Update
GEORGE NUUS - Die rowwe seetoestande wat die Tuinroete oor die afgelope twee dae beleef het, het nie sonder sterftes verloop nie.
Dit volg ná 'n 93-jarige vrou gistermiddag, Saterdag 16 September omstreeks 16:50, haar lewe by Leentjiesklip in Wilderness verloor het toe 'n reusegolf in die parkeerarea neergestort het.
Nog ‘n man het ernstige beserings opegdoen en is per ambulans na die hospitaal vervoer.
Die oorledene en beseerde man was deel van ‘n groep omstanders wat vanaf die parkeerarea na die see gekyk het.
“Die lewe verander in ‘n oogwink,” het ‘n ooggetye, Tanya Rossouw, aan George Herald gesê. Rossouw het in die middelste gedeelte van die parkeerarea in haar motor gesit toe die voorval homself voor haar afspeel.
Rossouw het om 15:30 by Leentjiesklip gestop om ‘n paar foto’s te neem soos baie ander mense. “Die branders was in daardie stadium hoog, maar het nog nie oor die parkeerarea gekom nie. Omstreeks 16:50 het ‘n reusebrander oor die parkeerarea gebreek en omstanders getref. Die water het selfs bo-oor my bakkie gespoel,” vertel Rossouw.
Rossouw het besef van die omstanders het hulp nodig en dadelik uit haar voertuig gespring om te help. “Die tannie was sopnat, maar nog by haar bewussyn. Nog ‘n man was erg beseer.”
Met die hulp van nog ‘n omstander kon hulle die 93-jarige vrou na Rossouw se bakkie neem waar hulle vir die nooddienste gewag het.
“Die ambulans was vinnig daar, maar die tannie het reeds bewussyn verloor.”
Die slagoffer is per ambulans na die hospitaal vervoer waar sy oorlede is.
Verskeie huise op die seefront van Heroldsbaaie en Victoriabaai het gister waterskade opgedoen weens die rowwe seetoestande en infrastruktuur op die strande is ook beskadig.
Strande steeds gesluit
Alle strande bly in hierdie stadium gesluit vir voetgangers en voertuie. Die George Munisipale Rampbestuur- en Diensspanne is op hoë gereedheid en hou die situasie fyn dop.
Nog hoogwaterdeinings, wat na verwagting tot 2,9 meter sal bereik, word vir vanmiddag voorspel.
Die toneel kort na die voorval.
Leentjiesklip deur die water verswelg.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’