Video
GEORGE NUUS & VIDEO - Min mense kan op 26-jarige ouderdom sê hulle het 14 jaar ondervinding in hul beroep.
Grandt Damons, of Rasper, soos hy alombekend is, was maar 13 jaar oud toe hy vir die eerste keer 'n uur lange program, Sports Talk, op Vrydagaande by Eden FM behartig het.
Na jare as radio-omroeper gaan Rasper egter nou eers 'n ander rigting inslaan. Hy het 'n geleentheid gekry om 'n pos as administrasieklerk, by 'n plaaslike tak van 'n nasionale maatskappy, wat hul beywer met skoonmaakdienste, te beklee.
Vandag, Vrydag 9 Januarie, is Rasper se laaste dag agter die mikrofoon voor hy volgende week van koers verander.
Tydens 'n besoek by Eden FM se nuwe studio oorkant George Child Welfare, op die hoek van Albert- en Merrimanstraat, gesels Rasper oor sy middageteprogram, Lunch Show met Rasper, sy liefde vir rugby en hoe sy lewe deur radio verander is. Dit val 'n mens omtrent onmiddellik by dat dié man eintlik 'n introvert is. Voor die radio verskyn daar wel 'n ander kant van Rasper - een wat die luisteraars goed ken.
VIDEO - Rasper gesels vir oulaas op die radio. Video: Michelle Pienaar
"Die radio het my geleer om uit my dop te kom. Dit was my liefde vir rugby wat my op die ou end 'n pos as sportkommentator besorg het. Daarna het ek vir jare die middagprogram behartig. Ek het soveel ondervinding opgedoen, ek is die stasiebestuurder, Morné Pietersen, ewig dankbaar," het Rasper vertel.
Gedurende sy tyd as omroeper het hy die geleentheid gekry om heelwat regstreekse sportuitsendings te doen. Klubrugby is sy groot voorliefde, en sy hoop is om weer beide op die veld te kan speel en as kommentator op te tree.
Wat die middagprogram betref, gaan hy die luisteraars vreeslik mis.
"Al die boodskappe, die lekker gesels. Dit was baie spesiaal," het Rasper gesê.
Lees nog 'n storie hier:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’