GEORGE NUUS - Twee Paashase het op Goeie Vrydag, 15 April, in die Kaap gaan kuier en groot vreugde vir Jana Human op haar 8ste verjaarsdag gebring.
Jana, die leukemialyertjie van George, is op die oomblik in die Kaap saam met haar ma, Petru, waar sy behandeling ontvang.
Nita en Ankia, Jana se twee sussies, het die naweek spesiaal Kaap toe gegaan en as Paashase opgetree.
Die Paashase kon haar besoek danksy Lizelma Kassteen wat in Maart met 'n Paaseierprojek vir Jana begin het. Lizelma se vriende en familie het mildelik bygedra tot die projek.
Nie net het hulle vreugde vir Jana gebring nie, maar ook vir ander kinders. Hulle het ongeveer 500 paaseiers uitgedeel by die Rooikruis-kinderhospitaal in Rondebosch en by drie CHOC-huise (Childhood Cancer Foundation) aan pasiënte, ouers en personeel.
Jana het die geskenkies wat van George gestuur is met groot vreugde ontvang asook die fantastiese koek wat Erene Nicklebein vir haar gebak het.
Ceri Shackleton van Something Special in George het die Paashaas-kostuums vir die naweek beskikbaar gestel.
Jaco Human, Jana se pa het gesê hy en Petru wil vir almal baie dankie sê vir hulle oop harte, vrygewigheid, liefde en bo alles almal se gebede. "Indien Jana aanhou om so goed te reageer op die chemo wat sy tans ontvang, hoop ons om haar middel Mei weer by die huis te hê."
Volgens Jaco gaan dit onder omstandighede goed met Jana. "Sy reageer goed op die behandeling. Sy mis haar mense en haar skool, Laerskool Outeniqua."
Jana is in September verlede jaar met akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer.
Sy is daarna in Kaapstad behandel. In Desember het sy en haar ma, Petru, vir 'n paar weke huis toe gekom en vroeër vanjaar weer na Kaapstad teruggekeer vir verdere behandeling.
Tydens haar tien weke verblyf in George het sy voortgegaan met daaglikse mondelingse chemo, ondersteunende chemo per drip, bloedtoetse en lumbale punksies by Life Bay View-hospitaal. Die volgende sessie chemo kon nie hier gedoen word nie en daarom moes sy terugkeer Kaapstad toe.
Jana saam met een van die 'Paashase' wat vir haar gaan kuier het op haar verjaarsdag.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'