GEORGE NUUS - 'n Brand by die historiese huis in Davidsonstraat naby George-hospitaal het vier haweloses sonder 'n tuiste gelaat. Die brand het sowat 21:30 gisteraand, 23 Desember, by hierdie huis uitgebreek en die plek in puin gelos.
Die dak het heeltemal afgebrand en die binnekant van die gebou is verwoes.
Munisipale woordvoerder Chantel Edwards het bevestig dat brandbestryders omstreeks 21: 43 verwittig is; kort daarna by die toneel opgedaag het en die vlamme vinnig geblus het. "Dit blyk dat haweloses op die eiendom moontlik die oorsaak was," het sy gesê.
Die vier hawelose vroue wat daar gewoon het, het sowat vier jaar gelede hul intrek geneem. Hulle beweer 'n man by name van Raymond, wat 'n paar maande gelede sy intrek geneem het, het die brand gestig. "Die polisie het hom weggeneem," het die vroue gesê.
Polisiewoordvoerder sers. Chris Spies het egter bevestig dat niemand tans in hegtenis geneem is nie. "Die polisie ondersoek 'n klag van brandstigting," het hy gesê.
Bernadine Serfontein, Magdalene Manewil, Sharoné Kayser en Shermay Cloete het op 'n kombers op die gras buite die huis gesit. Foto: Michelle Pienaar
George Herald het in die verlede heelwat geskryf oor klagtes van die publiek rakende die huis wat deur haweloses en kriminele bewoon word. Mense het ook gekla dat dwelms al op die perseel gevind is. Sekerheidswagte hou wel 'n ogie bedags. Die eiendom behoort aan die departement van openbare werke.
Met George Herald se besoek aan die toneel vanoggend, net ná 08:00, het George-brandweer pas die perseel verlaat. Hulle het gisteraand die vuur geblus en vanoggend die laaste smeulende areas beveilig.
Bernadine Serfontein, Magdalene Manewil, Sharoné Kayser en Shermay Cloete het op 'n kombers op die gras buite die huis gesit. Hulle is mismoedig en ontsteld. "Hy [Raymond] was 'n sigopaat; hy wou dit doen," het Sharoné Kayser gesê.
Volgens die sekerheidswag, Elvis Mondlane, van Mmapula Security Services and Projects, het Raymond vroeër die dag met sy meisie baklei. "Ons het die situasie hanteer, en het gedink hy was heeltemal rustig toe ons later daar weg is," het Mondlane gesê. Raymond was nie op die perseel met George Herald se besoek nie.
Die area op die stoep waarheen die vier hawelose vroue nou geskuif het. Foto: Michelle Pienaar
Intussen het die vier hawelose vroue se verblyf haas onbewoonbaar geword. Daar is nog 'n klein area op die stoep wat effens beskut is, en hulle het hul komberse en besittings soontoe geneem. "Ons het nêrens anders om heen te gaan nie," het een van hulle gesê.
Dit is hoe die huis voor die brand gelyk het (Augustus, 2021). Foto: Michelle Pienaar
Die sekerheidswag, Elvis Mondlane, van Mmapula Security Services and Projects, wys waar die plafon ingeval het. Foto: Michelle Pienaar
Die hele dak en binnekant van die huis is verwoes. Foto: Michelle Pienaar
'n Foto van die brand gisteraand by die historiese huis in Davidsonstraat. Foto: Verskaf
Lees vorige artikels hier:
- Fire at old magistrate's house
- All eyes on historic Davidson Road property
- Security at house of sin questioned
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’