Update
GEORGE NUUS - Brenville Stalmeester (13), vermoedelik van Geelhoutboom, is Sondag 5 November in 'n ongeluk op die Geelhoutboompad dood.
Die bestuurder van 'n wit Nissan 1400-bakkie was van Blanco na Geelhoutboom onderweg toe hy na bewering beheer oor die voertuig verloor het.
Die bakkie het gerol en op sy kant langs die grondpad beland.
Die ongeluk het tussen Tramonto en die Van Greunen-plaas se afdraai gebeur.
Stalmeester was na bewering 'n passasier in die voertuig en is by die venster uitgeslinger tydens die ongeluk.
Die bestuurder van die bakkie het van die toneel gevlug.
Die bakkie behoort aan Brenville se oupa.
"Ek het net die bakkie sien rol en die bestuurder sien weghardloop. Toe ek hier kom, het ek die kind hier sien lê," het 'n ooggetuie, Hendrik Claassen, aan die George Herald gesê.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het ooggetuies aan die polisie vertel dat 'n jong man met 'n bebloede gesig van die toneel padgegee het.
Dit is onseker of dié man die bestuurder van die bakkie, of 'n insittende was.
Die polisie ondersoek 'n saak van strafbare manslag en daar word nog na die bestuurder van die bakkie gesoek.
Indien enigiemand inligting oor die voorval het, of weet wie die bestuurder is, moet hulle die ondersoekbeampte, speursers. Lindeni Ndwenkuku, by 044 803 4728 skakel.
Die Nissan-bakkie het op sy kant te lande gekom.
* A teenage boy died in an accident on the Geelhoutboom road between Tramonto and the turn-off to the Van Greunen farm on Sunday afternoon, 5 November. Brenville Stalmeester (13) was flung from the vehicle, sustaining fatal injuries when the driver of the vehicle allegedly lost control of the bakkie. The driver allegedly fled the scene after the accident.
Lees 'n vorige artikel: Seuntjie op Geelhoutboom-pad doodgery
ARTIKEL & FOTO'S: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'