GEORGE NUUS - Die stof het nog lank nie gaan lê oor die onlangse woelinge by Gwaiing nie. 'n Groot optog word vir Vrydag 28 Januarie na die stadskern beplan. Dit vind onder die vaandel van die Gwaiing-aksiegroep plaas.
Blanche Benjamin, voorsitter van die groep, het Dinsdag aan George Herald gesê die optog sal amptelik om 10:00 in Pacaltsdorp begin en na verwagting sal optoggangers teen 13:00 by die siviele en tegniese dienste munisipale kantore in Yorkstraat wees.
Belangstellendes sal reeds van 08:00 op die hoek van Olimpic- en Beachweg in Pacaltsdorp bymekaarkom. Daar sal verskeie sprekers wees wat aanwesiges gaan toespreek oor die jongste situasie voordat hulle om 10:00 vertrek.
Blanche Benjamin
By die munisipale kantore sal 'n memo-randum aan die waarnemende munisipale bestuurder, die burgemeester en die polisie oorhandig word. Dit sal bepaalde eise bevat en sal Vrydag bekendgemaak word.
Benjamin het benadruk enigiemand kan dit bywoon. "Ons het die steun van politieke partye in George, kerke en gemeenskapsorganisasies."
LEES MEER: Arrestasie by Gwaingmond toe polisie tente afbreek
Donovan Hantam
Volgens haar gaan dit nie net oor die onlangse gebeure nie. Die sluit ook vrae in oor dienslewering op strande, toegang tot strande en visvangplekke.
Natuurlik is die onlangse gebeure by Gwaiing wel ter sprake. "Daar is mense in Desember hardhandig by Gwaiing verwyder. Dit nadat mense al jare daarheen gaan. Mense was daar ter voorbereiding vir die Oujaarsgeleentheid. Daar was sekuriteitsbeamptes met honde. Dit was nooit voorheen so nie. Ons wil weet waarom dit nodig was."
Volgens haar is tente daar geplaas bloot in opbou na die Oujaarsgeleentheid. "Ons was nie van plan om daar te kamp nie. Die gemeenskap is ongelukkig oor munisipale verordeninge wat nie aan hulle verduidelik is nie."
Sy het 'n beroep op mense gedoen om Vrydag se geleentheid te steun. Dit sal 'n vreedsame optog wees. Aansoek is deur die regte kanale gedoen en toestemming is verkry.
Donovan Hantam, woordvoerder van die Gwaiing-aksiegroep, het gesê 'n tweede groep sal uit Thembalethu stap en aansluit uit Nelson Mandela-boulevard in Yorkstraat.
Volgens hom is daar tydens 'n vergadering op 21 Januarie besluit dat sprekers van Good, PA, PBI, die Rasta-groep, Codeta Disadvantanged Taxi Association (George), die Khoi, die CPF, die godsdienstige gemeenskap, die Thembalethu Community Forum en Sanco sal optree.
Die memorandum sal gefinaliseer word nadat voorleggings van die vermelde instansies ontvang is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'