Na 'n lang gepeins het ons besluit om vier uur in die ry te val.
Ons was voorbereid op 'n lang wag: toebroodjies, water, sigarette, sonskerm, sambrele.
Vier uur was toe 'n goeie tyd, al het die tou al om die LC-sportsentrum gekrul. Daar was seker al 'n duisend mense, maar ons was betyds. Ons sou dit maak. Agter ons was nog duisende meer en binne minute het die tou buite sig gegroei.
Die mense voor in die tou het duidelik al lank gewag, want hulle was reeds aan die sing: Asimbonanga (We have not seen him), Asimbonang' uMandela thina (We have not seen Mandela).
Ons sou later by 'n vrou hoor dat sy een uur die oggend al nommer 305 in die ry was.
Saam met ons in die tou was 'all walks of life': 'n boer met 'n 'two-tone' hemp, 'n ou weermag soldaat in volle 'step-outs', 'n Buddhis-monnik wat al die pad van Tibet gekom het. Oumense, kinders, groot mammas wat swaar staan, jong Kahnyi Mbau's, Effies, ka-ders, huishulpe, statige 'elders'. Denims, tiervel-minis, tradisionele klere, kispakke. Almal met dieselfde doel.
Die polisie het vriendelik maar ferm die skare beheer: te voet, op perde, motorfietse en in helikopters. 'n Polisievrou het groot applous gekry toe sy aankondig dat ons haar dadelik moet laat weet as iemand probeer indruk.
Vier ure later, kon ons die einde van die tou sien. Nou was daar groot opwinding. Die ry het vinniger beweeg, deur die 'scanners', duime gemerk en op die bus. Wat ons nie besef het nie was dat dit nog vier lange ure sou duur voordat ons die Uniegebou sou haal.
Die bus het beweeg en dan gestaan, beweeg, gestaan. Rondom ons was nog honderde busse, almal vasparkeer met geen belofte van vordering nie. Maar almal was geduldig: foto's geneem, boererate uitgeruil en mekaar se kulture beter leer ken. En glo my daar was seker tien verskillende kultuurgroepe op die bus, so daar was baie om te bespreek. Die gesprekke het ook beweeg na die fiasko by Soccer City en die vernietiging van Mandela se nalatenskap in hierdie tyd van vergrype en leuens.
Na 'n paar uur in die bus, hoor ons dat ons na ander busse moet loop, want ons bus kan nie die heuwel uit nie. Lienkie, wat haar informeel by ons aangesluit het, het reeds haar plat skoene verruil vir hoë hakskoene, maar het braaf die opdraande uitgeloop en ons is toe sommer in die eerste bus in. Die mense in die bus was al twee uur die oggend by die 'Park-and-Ride'. Ons het twee ure gewen. Die blyste wat ek nog was dat 'n bus gebreek het.
Voetjie vir voetjie het ons nader gekruip tot die Uniegeboue slegs meters weg was en skielik weerklink 'n harde gedeelde kreun uit die bus: 'Did you see the queue?' "45 minutes guys, just 45 minutes more." lig 'n vriendelike polisieman ons in.
Sambrele oop en gedeel, 'n gesamentlike skild teen die velle middagson. Ek kan nie help om op te merk hoe baie mense, soos ek, ook 'n pienk sambreel saam met hulle Cosmo gekry het nie.
Die slang kronkel stadig vorentoe. Toe breek die oomblik aan.
Hier tussen die kolomme van die Uniegeboue op 'n perfekte Desemberdag, lê hy in 'n spierwit kis, met die stad aan sy voete. Twee rye gewone mense bring hul laaste hulde aan 'n ongewone man. 'n Lofsanger in die tou se krete breek spontaan deur die gewyde stilte. Die oomblik is te groot: 'n snik skeur deur my lyf, en nog een en nog een. 'n Vrou met 'n boks 'tissues' neem my in haar arms. "Toe maar, dis okay. Dis okay."
Ek staan op die trappe en kyk af na die massas mense wat oor die grasperke vleg terug na die busse toe. Dis verby.
Lienkie kom nader en ons val in mekaar se arms. Sy het 'n tissue in haar hand. Die oomblik was vir haar ook te groot. Hier staan ons, 'n wit en 'n swart vrou, vreemdelinge, saamgebind deur een man. Ons loop hand in hand die trappe af. Ek sien sy het weer haar plat skoene aan.
Ek weet nie of ek hom regtig gesien het nie.
Ek het beslis nie sy hemp gesien nie. Dit was so vining, maar ek dink nie ek wou gehad het dat dit langer moet wees nie.
Ek weet nie hoe dit my laat voel het nie. Kan ek regtig hartseer wees oor iemand wat ek nie geken het nie?
Ons vat 'n taxi terug. Sien nie weer kans vir die busse nie. Die gesprek is nou anders: ons moet sy nalatenskap uitleef. Ons moet, selfs in ons klein lewens, 'n manier vind om 'n verskil te maak.
Met die lang stap na die taxi toe, begin ons groepie mekaar ken. My jong Tswana kollega, wat ek vandag vir die eerste maal besef het 'n groot gees het, 'n Zoeloe-mamma wat burgemeester van Balfour was en Afrikatale studeer, en ek, 'n wit Afrikaner vrou.

Marinda Schoonraad met haar pienk Cosmo-sambreel tydens haar lang wag Vrydag om Madiba in staatsie te sien. Sy het van 04:00 tot 13:00 gewag.
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'