Volgens mnr. Natie de Swardt, bestuurslid van die stigting, het hulle in Desember verlede jaar appél aangeteken teen die beoogde sloping.
As gevolg daarvan is ‘n tribunaalsitting op 26 Maart in Kaapstad gehou waar De Swardt namens die stigting ‘n voorlegging gedoen het en mev. Susan Deacon, die eienaar van die eiendom, ook die geleentheid gegun is om redes aan te voer waarom hulle die gebou wil sloop.
Die tribunaal moet binne 21 dae ná hierdie sitting uitspraak gee en die lot van die geboutjie bekendmaak.
Belangrike erfenis
Volgens De Swardt is daar verskeie redes waarom die stigting die sloping van die geboutjie teenstaan. Die huisie vorm na bewering deel van George se vroegste stedelike morfologie en verteenwoordig dus elemente van die historiese stedelike landskap. Meadestraat was een van die eerste strate in George en dele daarvan is byna die helfte so oud soos George. De Swardt voer aan dat George se argitektoniese nalatenskap so te sê vernietig is, en dat bittermin voorbeelde van hierdie soort argitektuur nog oor is.
Die stigting is dus van mening dat die geboutjie in ‘n plaaslike konteks baie belangrik is vir George.
Hy sê verder dat slegs beperkte navorsing oor die huisie gedoen is, en dat hulle minstens sou wou hê dat meer volledige navorsing gedoen word alvorens ‘n besluit oor sy lot geneem word.
Die stigting is van mening dat die huisie as besienswaardigheid behou moet word, as die belangrikheid daarvan gemeet word aan internasionale standaarde.
Die ander kant
Die Deacons voer aan dat die huisie geen besonderse Georgiete gehuisves het nie en van geen geskiedkundige waarde is nie. Hulle sê verder dat dit in ‘n swak toestand is en dat ontwikkeling van die eiendom onmoontlik is terwyl die geboutjie nog staan.
De Swardt, en die stigting, voel egter sterk daaroor dat die 200-jarige vieringe van George in 2011 om die draai is, en dat hierdie geboutjie die erfenis verteenwoordig van die lewens van die gewone, nederige inwoners wat in vroeë George geleef het.
Blykbaar was die eiendom deel van ‘n groter area waar ‘n veekraal bestaan het en ‘n uitgebreide houtkappery bedryf is. Volgens De Swardt het dié spesifieke area die grootste deel van die destydse dorp van brandstof voorsien.
Die stigting is van mening dat uitgrawings op die eiendom waarskynlik nog meer bewyse van historiese en kulturele waarde na vore sal bring. Hulle glo dat toekomstige ontwikkeling van die perseel op só ‘n wyse beplan kan word dat die struktuur geakkommodeer kan word.
Die huisie is erg verwaarloos en haweloses het hulle binne-in tuisgemaak. Die area rondom die geboutjie is uiters onversorg en dit lyk asof dit as stortingsterrein gebruik word. Die geheelbeeld skep nie ‘n goeie indruk nie, veral nie uit die oogpunt van moontlike kopers in die ontwikkeling wat hier beoog word nie.
Sou die huisie wel behoue bly as geskiedkundige besienswaardigheid, sal die versorging en onderhoud daarvan noodsaaklik wees om dit op die langtermyn te regverdig.
Artikel en foto's: Yvonne Botha
.jpg)
Die agterkant van die huisie met die ontwikkeling links agter sigbaar.