Update
GEORGE NUUS - Die departement van vervoer en openbare werke het vroeër vanjaar aangedui dat herstelwerk aan 'n sinkgat in Madiba-rylaan teen einde Maart voltooi sal wees, maar met George Herald se besoek aan die perseel op Dinsdag 29 Maart was die sinkgat in die pad nog daar.
Daar was masjinerie en stormwaterpype op die perseel, maar dit was oor etenstyd en daar was nie op daardie tydstip enige aktiwiteit nie.
Die pad verleen toegang tot die Nelson Mandela Universiteit (NMU) vanuit George se rigting en na die Sewepassepad wat verby Wildernishoogte lei.
Sedert November verlede jaar se vloede, wat die skade veroorsaak het, gebruik personeel en studente van die NMU en ander motoriste die alternatiewe roete deur Wilderness. 'n Besorgde padgebruiker skryf aan George Herald die direkte koste weens die bykomende afstand en verlengde reistyd vir hierdie gereelde padgebruikers word op R2 miljoen per maand geraam, volgens sy berekeninge.
Die verlies aan besigheidsinkomste wat die pad genereer deur toeriste wat dit as 'n gewilde historiese roete besoek, is 'n bykomende R1 miljoen tot R2 miljoen per maand.
Oor die vier maande wat die pad nie in gebruik is nie, kan die ekonomiese impak reeds op R15 miljoen tot R20 miljoen geraam word.
George Herald het die departement genader vir kommentaar op die padgebruiker se brief waarin hy ook sy kommer uitspreek oor die tegniese vaardigheid wat aangewend word vir drooglegging, en redes wat die owerhede aanvoer vir die oponthoud in die herstelwerk.
Departementele woordvoerder, Jandré Bakker, het nie gesê wanneer motoriste kan verwag om weer die roete te gebruik nie. Hy het gesê die werk word deur hul agent, die Garden Route-distriksmunisipaliteit hanteer.
November se vloede het hierdie skeur in Madibarylaan veroorsaak. Die departement van vervoer het vroeër gesê die herstelwerk sal teen einde Maart voltooi word. Hierdie foto is op 29 Maart geneem. Foto: Alida de Beer
Hy wag (sedert die koerant se navraag verlede Dinsdag 23 Maart) op terugvoer van die munisipaliteit op die tegniese aspekte wat die anonieme padgebruiker opper, maar hy het wel bevestig dat hierdie gedeelte van die roete geprioritiseer word bo ander dele waar vloedskade ook voorgekom het.
Die pad sal vir 'n tweede keer gesluit word wanneer daardie skade aandag kry. 'n Tweede sluiting sal egter met voorafbeplanning en beperkte sluiting gedoen word.
Hy het in Februarie aan George Herald-joernalis Michelle Pienaar gesê die herstelkoste van die pad is na raming R4,5 miljoen en werk het dadelik ná die vloede begin nadat noodomgewingsgoedkeuring verkry is.
Lees 'Besorgde Padgebruiker' se brief en Jandré Bakker se volledige antwoord op die brieweblad.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'