Besorgde Padgebruiker:
Tydens die vloede verlede jaar November, het die Sewe Passe-pad heeltemal weggespoel net ná die Swartrivierbrug op pad na Nelson Mandela Universiteit (NMU) en Wildernishoogte.
Noodgedwonge moet alle inwoners asook die uitgebreide NMU-kampus sedertdien die roete om Wilderness gebruik om in George te kom. Hierdie situasie het die volgende nadelige impak op die inwoners/gebruikers van die pad:
1. Die gebruikers se ryafstand is met gemiddeld 25 km verleng. As in ag geneem word dat ongeveer 200 voertuie twee keer per dag die afstand moet aflê, teen 'n gemiddelde rykoste van R4,50/km, kos dit die gebruikers ongeveer R45 000 per dag. Indien 'n gemiddelde maand op 25 dae gereken word, R1,125 miljoen per maand wat die pad nie beskikbaar is nie.
2. Die reistyd het ook met ongeveer 25 minute toegeneem. As die gemiddelde produktiwiteitskoste konserwatief op R1 000/uur gereken word en dit affekteer 500 mense per dag, beloop die koste ongeveer R0,875 miljoen per maand. Die direkte koste kan dus net vanweë verlengde reistyd op R2 miljoen per maand geraam word.
3. Indien die verlies aan besigheidsinkomste wat die pad genereer, in ag geneem word aangesien die pad ook 'n gewilde toeriste-attraksie is, kan die addisionele koste/verlies aan inkomste, op een tot twee miljoen rand per maand gereken word. Hierdie pad is reeds vir meer as vier maande nie in gebruik nie, dus kan die ekonomiese impak hiervan reeds op R15 miljoen tot R20 miljoen geraam word.
4. Die pad wat tans deur al die gebruikers nou gebruik word (om Wildernishoogte deur), verg ook dringend instandhouding en skep 'n gevaarlike situasie met die baie motors, busse, vragmotors en fietsryers wat dit gebruik. 'n Gedeelte van hierdie pad is ook besig om in te val en voertuie moet op 'n ongereguleerde enkelbaan ry wat boonop op 'n blinde draai is. Dit hou 'n verhoogde risiko in vir alle gebruikers.
Volgens 'n artikel wat op 19 November 2021 in George Herald verskyn het, het herstelwerk aan die Saasveld-pad (MR 355) begin en sou dit binne drie maande afgehandel wees. 'n Latere artikel in George Herald het bevestig dat die pad teen einde Maart 2022 herstel sal wees.
Ons nader nou die einde van Maart 2022 en daar is geen teken van noemenswaardige vordering nie. Die situasie kan as volg opgesom word:
1. Ons het 'n abnormale droë tydperk sedert Januarie 2022 beleef, wat konstruksie aan die pad behoorlik moes benut en groot vordering moes toon. Indien ons nou net 'n effense groot bui reën kry, gaan die halfhartige herstelvordering van sandsakkies en droogleipype in totaal wegspoel en in Kaaimansmond beland.
2. Die droogleipoging wat tans aan die gang is, skep nie veel vertroue in die tegniese vaardigheid of kennis wat aangewend word nie aangesien die syferwater wat ontstaan, steeds nie deur die pype weggevoer word nie.
3. By nadere navraag is bevestig dat die oponthoud veroorsaak word deur klippe wat vanaf Plettenbergbaai aangery moet word. Die geloofwaardigheid hiervan laat veel te wense oor.
Hierdie is 'n billike dog dringende versoek van alle gebruikers van die pad dat die erns van die situasie ingesien word en dat die herstelwerk aan die pad met die nodige erns, kundigheid en fondse geskied en aangewend word om dit so spoedig moontlik te vermag.
Jandré Bakker, woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke, het soos volg gereageer:
Die departement wag vir terugvoer van die Garden Route-distriksmunisipaliteit met tegniese verduidelikings, maar die volgende is 'n opsommende antwoord op die skrywer se navraag:
Die departement van vervoer en openbare werke doen herstelwerk deur sy agente, die Garden Route-distriksmunisipaliteit. Ons is bewus van die ongerief wat die vloedskade veroorsaak het en het hierdie gedeelte geprioritiseer bo die talle ander beskadigde dele in die area.
Die skade aan infrastruktuur wat deur die November-vloed veroorsaak is, bedra ongeveer R75 miljoen.
Verdere werk op hierdie gedeelte sal veroorsaak dat die pad vir 'n tweede keer gesluit moet word, maar ons prioriteit is om die pad so gou moontlik oop te kry en om 'n tweede sluiting te doen met voorafbeplanning en beperkte onderbreking.
Vloedskade van hierdie omvang neem gewoonlik langer as 'n jaar om geheel en al te herstel, maar die departement het hierdie gedeelte geprioritiseer om dit oop te kry voordat die groter werke begin.Die alternatiewe roete het ook dele waaraan gewerk moet word.