Update
GEORGE NUUS - Hy was onlangs betrokke by meer as 72 arrestasies vir dwelmbesit en 60 vir gevaarlike wapens.
Daarby het hy ook talle verdagtes vir ander geweldsmisdade in hegtenis geneem.
Vir reservis-konstabel Nico Luiters (55) van Pacaltsdorp, was dit van kleintyd af 'n lewensdroom om 'n polisieman te wees.
Hy is 'n beskeie man van min woorde en sê hy wy sy lewe aan sy werk as reservis om sy gemeenskap te beveilig.
Maar Luiters is nie sommer 'n hier-jy reservis nie.
Hy dien sy gemeenskap al vir 18 jaar lank as reservis en nie net is hy onlangs as die Wes-Kaapse Reservis van die Jaar aangewys nie, maar hy is ook op Sondag 26 Januarie, by die polisie se nasionale uitnemendheidstoekennings (Excellence Awards) in KwaZulu-Natal as die land se beste reservis bekroon.
"Dit was reeds vir my 'n groot eer om as die reservis van die jaar by die provinsiale kompetisie aangewys te word. Ek neem al die afgelope agt of nege jaar deel en heeltyd kry ek tweede plek. Dit was nogal iets anders om te wen," glimlag hy.
Luiters, 'n boorling van Noll in die Langkloof, sê daar is geen geskiedenis in sy gesin van polisiemanne of -vroue nie en dat slegs sy passie om sy mense veilig te hou, die dryfveer agter sy keuse was om 'n reservis te word.
"Ek hou daarvan om my gemeenskap te dien en om kriminele van ons strate af te kry en voor die hof te bring. Dis 'n passie van my om alles wat onwettig is uit ons omgewing te verwyder sodat ons kinders en ons mense veilig kan wees," sê hy.
Sy mylpaal-wen skryf hy toe aan die volgehoue ondersteuning van sy kollegas, familie, vriende, gemeenskap en sy Hemelse Vader.
"Aan God kom al die eer toe. Net Sy genade lei my om my gemeenskap te dien met al die motivering en wilskrag.
"Dankie ook aan my liefdevolle familie en vriende wat my bystaan. Aan die Pacaltsdorp-polisie, my misdaadvoorkomingspan, my reservis-koördineerder en veral ook aan sersant Sergio Bowkers. Hy het my gemotiveer om in te skryf vir die laaste twee jaar se toekennings," sê Luiters.
Hy sê dit was vir hom 'n groot voorreg om op beide vlakke te wen, en Pacaltsdorp-polisiestasie en die Tuinroete-distrik op die groot verhoog te kon verteenwoordig.
"Volgende jaar wen ons weer!"
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’