Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die driejarige Liano Wagenaar van Hoekwil loop deesdae op sy eie in en om die huis rond, sonder hulp van sy boetie en sussie, of sy ouers.
Dit is vandag presies twee maande na die tref-en-trap-ongeluk op 4 Maart, wat die Wagenaar-gesin se lewe tot stilstand gedwing het.
Liano is deur 'n plaasbestuurder met 'n voertuig getref toe hy oor die pad gehardloop en voor die voertuig beland het. Die kleuter is met 'n gebreekte heup en been in die George-hospitaal opgeneem, waar hy vir vyf weke moes aansterk voor hy kon huis toe kom.
Die skuldige het na vore gekom nadat Jake Crowther, eienaar van Oakhurst-plaas, 'n beroep op die plaassekuriteitsgroep van die gebied gedoen het. Liano se pa, Michael Wagenaar, is werksaam op die Oakhurst-plaas.
Die polisie kon nie teen druktyd nuwe terugvoer oor die saak teen die bestuurder gee nie. Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het vroeër by navraag gesê dat George-speurders 'n saak van roekelose of nalatige bestuur ondersoek.
"Sekere dokumentasie moet nog verkry word. Die dossier sal aan die Nasionale Vervolgingsgesag oorhandig word om te besluit of die motoris vervolg sal word of nie. Die ondersoek duur voort."
Volgens Liano se ma, Leen Wagenaar, het hy die afgelope tyd vreeslik na sy maatjies by Sonneblom Crèche in Touwsranten verlang. Liano het Dinsdag vir die eerste keer na die ongeluk weer na sy skool gegaan.
"Hy kla nie meer so baie oor die pyn nie, en hy skuif nie meer die heeltyd op sy boudjies rond nie," het Leen gesê.
"Hy het Maandag 24 April vir die eerste keer op sy eie begin loop. Ons was so opgewonde, ek kon huil van blydskap. Nou wil Liano net skool toe gaan. Sy Juffrou sê dis reg, hy kan maar kom. Met al die maats gaan hy vergeet van sy been."
VIDEO: Verskaf
Liano was sowat twee weke gelede vir sy laaste ondersoek. "Die dokter sê sy heup het mooi aangegroei, en sy kniekop en enkel lyk goed," het Leen gesê.
Liano se volgende mediese ondersoek is op 22 Junie.
Liano (middel), sy boetie, Keano (6) en sussie, Melodine (9).
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’