GEORGE NUUS - Die ouers van 'n driejarige seun van Oakhurst in die Hoekwil-area het 'n geweldige skok beleef toe hul driejarige seun Saterdagmiddag (4 Maart) ernstig in 'n tref-en-trap-ongeluk beseer is.
Klein Liano Wagenaar is in die George-hospitaal opgeneem met 'n gebreekte heup en bobeen asook impakbeserings aan sy been.
Sy ma, Leen, sê die dokters wou aanvanklik opereer, maar daar is vir eers daarteen besluit. Sy been is Sondagaand in gips gesit en hy het baie pyn.
Die ongeluk het om ongeveer halfdrie op die Sewe Passe-pad tussen die Oakhurst- en Mandalay-plase gebeur. Wagenaar sê sy was in die huis doenig terwyl haar man, Michael, wat op die Oakhurst-plaas werksaam is, gerus het. Hulle woon 'n klein entjie van die pad af.
"Liano en sy ouer boetie, Keano (6) het buite gespeel. Toe dit op 'n stadium stil raak, het ek my dogtertjie (Melodine, 9) gevra om te gaan kyk waar haar boeties is. Sy het gesien hulle speel op die bure se stoep," vertel Wagenaar.
Dit was nie lank daarna nie dat 'n geskokte Keano met die beseerde Liano in sy arms by die huis aangehardloop gekom het. Hulle was almal in 'n toestand van skok.
Toe hulle nie 'n ambulans in die hande kon kry nie, het mev. Wagenaar vir Jonathan Appel gebel, 'n inwoner van die area wat hulle gewoonlik dorp toe vervoer. Appel was op daardie oomblik in Wilderness, maar het dadelik Hoekwil toe gejaag om Liano te gaan oplaai.
Volgens mev. Wagenaar het Keano gesê 'n wit bakkie het Liano raakgery.
Jake Crowther, Wagenaar se werkgewer van Oakhurst-plaas, sê hulle het foto's van die plaas se geslotekringkameras afgelaai.
"Dit is omtrent 3 km van waar die ongeluk plaasgevind het en 'n mens kan nie vir seker sê watter voertuig dit kan wees nie, want van die voertuie op die foto's kon moontlik vanuit toegangspaaie in die hoofpad ingedraai het en sou dan nie by die ongelukstoneel gewees het nie. Die foto's van nog 'n kamera op ons buurplaas gaan ook afgelaai word om te bepaal of daar met sekerheid vasgestel kan word watter voertuig dit was.
"'n Klag is by die polisie gelê en al die foto's sal aan hulle oorhandig word vir die ondersoek."
Volgens mev. Wagenaar was Keano geweldig getraumatiseer na die voorval. "Hy verwyt homself. Hy wou Saterdagaand nie speel of eet nie en is vroeg bed toe, wat heeltemal buite sy aard is. Dis eers van Dinsdag af wat hy weer meer homself was."
Die woelige Liano Wagenaar is 'n woelige driejarige, maar gaan vir lank stil gehou moet word om te herstel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'