GEORGE NUUS - 'n Man wat aan sy drome vasklou soos 'n primaat aan 'n aaptou, swaai vir die volgende klompie weke elke Sondagaand om 20:00 oor kykNET-kykers se kassie tydens die dokumentêr Tarzan van George.
DeWet du Toit (35) en sy tweelingbroer Rudolf is pas terug van MultiChoice se kantore in Randburg, Johannesburg, waar die bekendstelling van Rian van Heerden se dokumentêr baie aandag van verskeie mediahuise ontvang het.
Die eerste episode van Tarzan van George is verlede Sondag op DStv-kanaal 144 uitgesaai, en is tans op DStv Catch Up beskikbaar.
"Die dokumentêr fokus op my droom om Hollywood se nuwe Tarzan te wees," het DeWet gesê.
"Dit is oor 'n maand se tyd geskiet, op verskillende plekke met mense en diere in Kaapstad, Somerset-Wes en die Tuinroete, onder meer Monkeyland in Plettenbergbaai. Die hele span was ook vir 'n ruk oorsee. Hulle het almal oorgevlieg na Los Angeles. Dit was 'n groot produksie."
DeWet en sy broer het tot dusver al vyf kortfilms (30 tot 40 minute) van hul eie vervaardig, wat te siene is op sy YouTube-kanaal. Hulle jongste kortfilm, Tarzan never dies, vorm deel van die kykNET-dokumentêr.
"Hulle het ons afgeneem terwyl ons besig is om te verfilm," het DeWet gesê. Aanvanklik was DeWet 'n bietjie skepties oor Rian van Heerden se idee om 'n dokumentêr oor hom te maak.
"Hy moes my eers oortuig op 'n manier. Ek was eers skepties, want ek is so gefokus op my Tarzan-droom. Hy het my hier ontmoet en verduidelik wat die plan is. Dit was vir my interessant dat hulle 'n realiteitsdokkie wil maak oor my droom. Dit het nogal cool geklink. Mense kan nou deel in my passie en sien dat 'n mens steeds kan droom en jou droom najaag. Dit was nogal vir my interessant gewees, almal se opinies, nadat dit uiteindelik op die lug was."
DeWet du Toit (links, 35) en sy tweeling-broer Rudolf.
Volgens DeWet was dit nie so 'n groot skok om homself op televisie te sien nie, want hy en sy broer het immers al baie films gemaak.
"Maar, met 'n dokumentêr is dit baie anders. Alles is baie eg en ontbloot. Jy is nie altyd in karakter nie. Sover was hierdie dokumentêr definitief die hoogtepunt van my lewe. Dit gaan nie net oor my nie, maar baie oor die karakter self, en die omvang van Tarzan.
"Hulle praat ook met literêre Tarzan-kenners. Dit is 'n groot spiderweb. Hulle het baie navorsing gedoen, ek gee dit volpunte."
Toekoms
Die Du Toit-broers doen alles saam - die skryfwerk, verfilming en beplanning van hul eie kortfilms. Intussen moet hulle ook die pot aan die kook hou en daarvoor is hulle met allerlei werkies binne die filmbedryf agter die skerms besig.
DeWet is gaande oor verfilming saam met internasionale filmspanne, waar hy baie van die bedryf leer. Hulle werk neem hulle soms na Durban en Kaapstad, en nou dat die twee Amerikaanse visas het, is hulle lus om weer na Los Angeles terug te keer.
"Ons werk aan 'n paar dinge, het 'n paar ysters in die vuur. Sal graag wil sien wat gebeur met die kykNET-film. Ons het nou ons visas en sal graag weer wil oorgaan, want dit was nog altyd die plan. In die filmbedryf is die gras groener daar. Ek wil nie te veel uitbrei oor ons besoek aan Los Angeles nie, maar daar is 'n paar geheime wat later in die dokumentêr onthul sal word," het DeWet gesê.
Onlangse Media24-artikels in Rapport en Die Huisgenoot oor DeWet se dokumentêr verleen groot fokus aan sy enkellopende status. Op hierdie stadium het die broers nie spesiale vriendinne nie, weens hul leefstyl. "Ek soek nog my urban Jane," het DeWet gesê.
DeWet en Rudolf du Toit woon steeds in George. Hulle ma is 'n wiskunde-onderwyser by York High en hul pa hou hom besig met allerlei dinge op hul plaas buite Mosselbaai.
Vorige arikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'