GEORGE-NUUS - Ligawedstryde in die SWD hervat dié naweek nadat die skeidsregters verlede week hul fluitjies neergelê het.
Gevolglik is geen wedstryde in die SWD Top 8 Superliga, die Uitdaagbekerreeks of die Eerste Liga gespeel nie. Slegs die Kusstreek-finaal op Saasveld en die Karoo-streek se halfeindrondte op Oudtshoorn het voortgegaan.
Die aksie van die SWD-skeidsregters volg op uitsprake in twee tugverhore waarin plaaslike klubs beboet is nadat skeidsregters se veiligheid in die gedrang gekom het.
In een voorval is 'n skeidsregter met 'n glas gegooi, wat hom in die maag getref het, terwyl 'n ander skeidsregter ná afloop van 'n wedstryd deur toeskouers aangerand is.
SWD-president Ben Brinkhuis het Woensdagoggend, 3 September, bevestig dat daar vandeesweek verskeie vergaderings met skeidsregters en die skeidsregterbestuur plaasgevind het.
"Ons het gisteraand [Dinsdag] 'n uitvoerende bestuur-vergadering gehad waar die skeidsregters plegtig belowe het dat hulle Saterdag aan diens sal wees. Die kwessie rondom skeidsregters is dus aangespreek.
"Ons het vanaand [Woensdag] ook 'n vergadering met die rugbyklubs om veiligheidsmaatreëls te bespreek. As die klubs nie veiligheidsplanne indien nie, sal hulle nie wedstryde kan speel nie. Dit is vir ons van kardinale belang dat die skeidsregters, spelers en toeskouers se veiligheid gewaarborg word," het hy gesê.
George Herald het Gavin Esau, voorsitter van die SWD-skeidsregters-vereniging, vir sy kommentaar genader, maar geen is teen die ter perse gaan ontvang nie.
Die omstandighede het sedert vandag se uitgawe van George Herald, waarin daar in 'n artikel aangedui word dat die uitgestelde wedstryde van verlede week die komende naweek gespeel sou word, verander.
Ná die vergadering met die klubs is daar besluit dat die geskeduleerde wedstryde soos aangedui op die goedgekeurde spelbeurtlys sal plaasvind. Dit beteken die wedstryde van 30 Augustus wat nie afgekom het nie, nou op 13 September gespeel gaan word.
Die uitstel verlede naweek het 'n groot invloed op die verloop van die Top 8 Superliga, met die halfeindrondes wat nou na 20 September aanskuif. 'n Datum vir die eindstryd sal later bepaal word.
Die naweek se program lyk soos volg:
• Barbarians vs. Evergreens
• Crusaders vs. Heidelberg
• Blanco vs. Progress
• Bridgton vs. Groot-Brakrivier
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’