Update
GEORGE NUUS - Plaaslike rugbyondersteuners en -spelers sit vanaand op hete kole terwyl almal wag op nuus uit die SWD se kantore.
Bridgton-rugbyklub moet vanaand voor die unie se tugkomitee verskyn nadat 'n jong skeidsregter (19) op 16 Augustus op hul tuisveld deur woedende toeskouers aangerand is.
Die voorval het op die veld na die kragmeting tussen Evergreens en Bridgton se A-spanne plaasgevind. Die skeidsregter het intussen ook kriminele klagtes by die polisie aanhangig gemaak.
Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het vandeesweek bevestig dat die ondersoek nog aan die gang is.
George Herald was ingelig dat die aanklagte intussen na 'n aanklag van ernstige aanranding verander is, maar Spies sê, volgens hulle rekords is die aanklag steeds gewone aanranding. Geen arrestasies is nog gemaak nie.
(In die gedrukte artikel in vandag se uitgawe is daar verkeerdelik berig dat die aanklag verander is na ernstige aanranding. George Herald vra verskoning daarvoor.)
Daar word 'n vol huis om 17:00 by die SWD-hoofkantoor verwag.
Benewens Bridgton en hul regsverteenwoordigers, sal die vier skeidsregters wat daardie dag diens gedoen het, die drielede-paneel van die tugkomitee, asook Evergreens se amptelike afvaardiging teenwoordig wees. Die saak moes reeds verlede week aangehoor gewees het, maar is uitgestel die week.
Verdere vertragings kan 'n groot invloed hê op die verloop van die SWD Top 8 Superliga. Bridgton is tans vierde op die punteleer, maar mag nie speel voordat die verhoor afgehandel is nie.
Dit beteken dat hul twee oorblywende ligawedstryde moontlik geherskeduleer sal moet word, 'n kopseer vir die kompetisie se program, met die halfeindronde reeds geskeduleer vir 13 September en die groot eindstryd vir 20 September.
Intussen is Groot-Brakrivier verlede week skuldig bevind in hul eie tugverhoor ná 'n voorval op die Rosemoor-sportterrein. In hul wedstryd teen Progress is 'n glas tydens die hoofwedstryd glo deur 'n ondersteuner in die rigting van die skeidsregter gegooi. Die klub is aan twee van vier aanklagte skuldig bevind en boetes van R4 000 en R2 000 opgelê, waarvan R3 000 opgeskort is.
In 'n verklaring op hul Facebook-blad sê die klub hulle raadpleeg hul regsverteenwoordiger en oorweeg om teen die sanksies te appelleer.
Skeidsregters se veiligheid
George Herald het navraag gedoen by Gavin Esau, voorsitter van die skeidsregtersvereniging, oor die welstand van die jong skeidsregter. Ten tyde van publikasie is daar egter nog geen terugvoer ontvang nie.
Esau het ook nie gereageer op vrae oor berigte dat skeidsregters moontlik oorweeg om te staak indien die uitslae van die tugverhore nie hul veiligheid waarborg nie.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’