Gallery Video
GEORGE NUUS - Die Amerikaanse ambassadeur en konsulgeneraal in Suid-Afrika mag dalk volgende jaar ter plaatse kom proe aan die pruime van Oppie Plaas-boerdery in Waboomskraal waar die wêreld se grootste pruim vanjaar geoes is.
Hierdie is 'n geleentheid wat die Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, dr. Ivan Meyer, wil reël nadat hy die plaas op Donderdag 10 Oktober besoek het om persoonlik kennis te maak met die agriwerkers, eienaars en bestuur.
Oppie Plaas het in Augustus die Guinness Book of World Records gehaal met hulle kampioenpruim, en dít met 'n Amerikaanse variëteit (Autumn Treat).
Meyer se idee is om die twee Amerikaanse hooggeplaastes by 'n tafel te laat aansit in die boord waar die wenpruim geoes is. Hulle moet dan vrugte uit die boord proe - "met 'n mes en vurk".
"Hulle moet weet dis húlle variëteit wat hier in Suid-Afrika wêreldstatus bereik het. Hierdie is werklik 'n unieke bydrae," het Meyer gesê.
Tydens sy besoek is die agriwerkers elk met 'n goue medalje van die Guinness World Records en 'n sertifikaat van erkenning vereer vir hulle toewyding en werk in die boord waaruit die indrukwekkende pruim geoes is.
Meyer was beïndruk dat 'n aantal van die werkers langer as 'n dekade of twee aan die plaas verbonde is. Hy het die oorhandiging van die medaljes behartig.
Die nou beroemde pruim, so groot soos 'n veselperske, is in Mei vanjaar geoes en het die skaal aanvanklik op 480 gram getrek. Toe dit egter enkele weke later vir die Guinness Book of World Records geweeg is, was dit weens vogverlies 464,15 gram, maar steeds heelwat swaarder as die vorige rekordhouer uit Japan wat 354,57 gram geweeg het.
FOTOGALERY: Medaljes van Guinness World Records vir agriwerkers van Oppie Plaas
Petrus Arends saam met minister Ivan Meyer en Dean Barnard, mede-eienaar van Oppie Plaas. Arends is langer as 35 jaar aan die plaas verbonde.
Die pruimboorde waar die kampioenpruim gepluk is, is agt jaar gelede aangeplant en volgens Dean Barnard, mede-eienaar, lewer dit gewoonlik groter as normale vrugte.
Meyer, wat 'n besigtigingstoer van die plaas gedoen het, het die bestuur en werkers gelukgewens dat hulle internasionaal nuus gemaak het. "Julle het vir 'n groot nasie soos Amerika gewys wat gedoen kan word.
"Die plaas belê in mense en ek is bly om te sien dat dit wêreldklas-erkenning gekry het. 'n Mens stel net 'n wêreldrekord op met wêreldkwaliteit boerdery, praktyke en wêreldklas agriwerkers. Dis nie enige plaas wat in die Guinness Book of World Records verskyn nie.
"Ek is baie trots op alles wat hier bereik is. Baie dankie vir jul bydrae tot landbou in die Wes-Kaap."
Hy het gesê Oppie Plaas help hom as minister om sy departement se prioriteite te laat realiseer, naamlik om landbou, voedselsekuriteit, lanbou-uitvoere en werkskepping te bevorder.
Barnard is ook vanjaar as Agri Wes-Kaap Santam se Jongboer van die Jaar aangewys.
Die werkers wat sertifikate en medaljes ontvang het met Wian Barnard links voor.
VIDEO: Minister Ivan Meyer gesels met die agriwerkers.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’