Vandag is sy 'n lewendige tienjarige, wat mal is oor netbal en haar maatjies. Van die groot 'K' is daar geen teken nie.
"'n Wonderwerk of wat?" - as jy haar ouers, Cornelius en Debrau, daaroor pols. Hulle gesels rustig oor dié trauma wat hul ongekompliseerde lewe sewe jaar gelede in 'n see van onstuimigheid gedompel het. Net blydskap oor die genade wat hulle ontvang het.
"Ons het weer ons kind terug. Ons kan nie ons dankbaarheid in woorde uitdruk nie. Natuurlik het dit ons onkant gevang en ons klein wêreldjie omgekeer. Nou besef ons daar was tog 'n doel met als."
Cornelius raak ernstig, amper angstig. "Daar is altyd hoop en jy moet glo! Moet nooit, maar nooit, moed opgee nie."
En dis dié boodskap wat hy graag wil deel met ouers en kinders wat in 'n soortgelyke situasie sit. Hy, sy vrou en Heimné kan nou makliker hieroor gesels. "Onthou daar is altyd hoop … maar dit moet eers slegter gaan voordat dit beter kan gaan," sê Cornelius.
Dis Debrau wat ons weer terugneem na 2005 toe Heimné met kanker gediag-noseer is. "Aanvanklik was ons nie seker hoekom haar magie so geswel was nie. Maar ek het so 'n bietjie agtergrond van medisyne en het op verdere toetse aangedring om vas te stel wat met haar verkeerd was."
Hul ergste vrese is op 14 Junie 2005 by die Rooikruis-kinderhospitaal in Rondebosch bevestig: Burkitt-limfoom.
Die volgende ses maande was hel, sê Debrau. "Ons het elke dag langs haar bed gewaak. My man het sy werk opgegee. Dit was erg. Ses maande van intensiewe chemo...haar hare wat uitval."
Jy moes elke dag daarmee saamleef, sê Cornelius. "Maar die ergste was haar lewer, linkernier, maagkliere en milt wat toe reeds met kanker deurtrek was. Ons het geen hoop of uitkoms gesien nie.
"Haar hart het op die operasietafel gaan staan terwyl die dokters geopereer het om pype in haar tenger liggaam te plaas waardeur die chemo toegedien kon word," vervat Debrau die gesprek.
"Toe kom Psalm 23 in my gedagtes op: Al gaan jy in 'n dal van doodskaduwee …" Debrau kyk na my met deurdring-en-
de oë. " Die teatersuster het op daardie oomblik begin bid vir Heimné. "Nogal ná die tyd vir ons gesê sy weet nie hoekom nie, maar sy het net skielik die behoefte gehad om te bid vir die klein dogtertjie wat so in haar hart ingekruip het.
Die dokters het toe al hoop opgegee dat sy dit sou deurtrek. "Toe begin Heimné se hart weer klop. Net dáár op die operasietafel."
Ná ses maande is sy huis toe. En vandag is sy blakend gesond. Springlewendig. Amper al 'n tiener, met netbal en haar maatjies steeds haar groot vreugdes.
Dis Cornelius wat afsluit met dié woorde: "
Ek het my kind terug. Daar is altyd hoop. Jy moet net glo."
En dis hoekom die Esau-gesin se deur oopstaan vir mense in soortgelyke situasies. Hulle het dit immers eerstehands ervaar - en oorwin!
Cornelius kan op sy selnommer op 074 958 7214 gebel word vir raad en ondersteuning.

Na intensiewe behandeling is Heimné Esau (10) van die Laerskool Outeniqua vandag springlewendig en gesond. Netbal is een van haar passies. By haar is die skoolhoof, Johan Smit en die netbalhoof, Marie Wolmarans. Foto: Christo Vermaak