Update
GEORGE NUUS - Die bestuurder wat verantwoor-delik was vir 'n tref-en-trap-ongeluk op Saterdag 4 Maart op die Sewe Passe-pad in die Hoekwil-area het na vore gekom.
Dit is nadat Jake Crowther, eienaar van Oakhurst-plaas, 'n beroep gedoen het op die plaassekuriteitsgroep van die gebied vir die skuldige om na vore te kom.
Die driejarige Liano Wagenaar, wie se pa Michael op Oakhurst werk, is ernstig in die ongeluk beseer en is met 'n gebreekte heup en been in die George-hospitaal opgeneem.
Die ongeluk het gebeur toe hy oor die pad gehardloop en voor die voertuig beland het.
Volgens Crowther het hulle foto's van sekuriteitskameras afgelaai en vyf of ses voertuie geïdentifiseer wat moontlik op die bepaalde tyd op die ongelukstoneel kon gewees het.
"Toe die persoon na 'n paar dae nog nie na vore gekom het nie, het ons 'n klag by die polisie gelê en die foto's oorhandig. Ek het daarna 'n versoek op die sekuriteits-groep geplaas vir die skuldige om na vore te kom.
"Ongeveer 'n uur later het 'n boer in die omgewing laat weet dis een van sy bestuurders wat werkers vervoer het. Die saak is nou in die polisie se hande."
Die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het by navraag gesê George-speurders ondersoek 'n saak van roekelose en/of nalatige bestuur.
"Sekere dokumentasie moet nog verkry word. Die dossier sal aan die Nasionale Vervolgingsgesag oorhandig word om te besluit of die motoris vervolg sal word of nie. Die ondersoek duur voort."
Liano se ma, Leen, het vandeesweek gesê dit gaan redelik goed met hom. "Dis net in die aande dat hy kla van pyn, maar verder gaan dit nog aan. Ons hoop en vertrou net op die Vader."
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'