Update
GEORGE NUUS - Die bestuurder wat verantwoordelik was vir 'n tref-en-trap-ongeluk op Saterdag 4 Maart op die Sewe Passe-pad in die Hoekwil-area het na vore gekom.
Dit is nadat Jake Crowther, eienaar van Oakhurst-plaas, 'n beroep gedoen het op die plaassekuriteitsgroep van die gebied vir die skuldige om na vore te kom.
Die driejarige Liano Wagenaar, wie se pa Michael op Oakhurst werk, is ernstig in die ongeluk beseer en is met 'n gebreekte heup en been in die George-hospitaal opgeneem. Die ongeluk het gebeur toe hy oor die pad gehardloop en voor die voertuig beland het.
Volgens Crowther het hulle foto's van sekuriteitskameras afgelaai en vyf of ses voertuie geïdentifiseer wat moontlik op die bepaalde tyd op die ongelukstoneel kon gewees het.
"Toe die persoon na 'n paar dae nog nie na vore gekom het nie, het ons 'n klag by die polisie gelê en die foto's oorhandig. Ek het daarna 'n versoek vir die skuldige om na vore te kom op die sekuriteitsgroep geplaas.
"Ongeveer 'n uur later het 'n boer in die omgewing laat weet dis een van sy bestuurders wat werkers vervoer het. Die saak is nou in die polisie se hande."
George Herald het 'n navraag aan die polisie gestuur en wag op terugvoer.
Vorige artikel: Kleuter ernstig beseer in tref-en-trap
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'