‘n Klein klimop-rankplantjie is met Andrew se sorg en toewyding gelei om regoor sy huis en aangrensende kamers te rank. ‘n Plafon van klimop begroet gaste wat ‘n lafenis tussen die groen kom soek. Spi-rituele versies, geverf op spoelhout, is oraloor tussen die rankplant se loof te bespeur.
‘Liefde is tyd en ruimte, gemeet met die hart,’ lees ‘n versie in die blaremat.
Weekliks roep die kloof na Andrew en keer hy terug na sy ‘Mamma’, die rivier, bome en koel grond wat onder teen die Outeniquas kronkel en bos.
Hy loop die paadjie onder die Ou Tolhuis af tot by die water, waar hy eers gesig was en uit die rivier drink - keel natmaak. "Ek groet vir Mamma," vertel Andrew.
Daarna soek hy spoelhout en interessante klippe wat hy op sy skouers terug dra huis toe - Blanco toe.
‘n Lewende verlede
Die hout se geskiedenis, vertel Andrew, is ‘n lewende verlede.
Die liefde kyk nie uit die oog nie, maar uit die hart. "Ek voel die hout wat ek dra."
Saam met sy neef, Patrick Maritz, deel Andrew die skoonheid van ons berge met ander. ‘n Tuisgemaakte video vertel van die twee sielsgenote se liefde vir rotsformasies, vir die kleur van die weerkaatsing op die rivier en die tekstuur van die grond.
"Die geboorteplek van stompe en hout is langs die rivier, die eindbestemming is die see," sê Andrew.
Wanneer Andrew kloof toe gaan, is dit met slegs ‘n lied in die hart.
Hy klim soms op gevaarlike plekke, waag soms sy lewe, maar dit is alles die moeite werd, sê hy.
"Dit is ‘n dapper hart wat die risiko loop om die vreugde van liefde te ontdek."
Sien nog foto's hier: www.georgeherald.com/gallery.aspx
.jpg)
‘n Blareplafon tussen sy huis en ‘n aanbouing
ARTIKEL EN FOTO'S: MICHELLE PIENAAR