SUID-KAAP NUUS - Na aanleiding 'n artikel in George Herald ('WKOD verduidelik vertragings in aanstellings', 7 Februarie 2024), verduidelik dr. Hennie van der Westhuizen, afgetrede skoolhoof en kringbestuurder, die stappe in die proses van die aanstelling van skoolhoofde:
Skoolhoofde is toenemand besig om ‘n bedreigde spesie te word. Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het in 2023 alleen in drie vakaturelyste 256 skoolhoofposte geadverteer.
Die publiek wonder dikwels hoe die benoemingsproses verloop. Dis ‘n burokratiese proses wat noukeurig volgens voorskrifte moet plaasvind.
Juis daarom word senior onderwysamptenare, naamlik kringbestuurders, verplig om teenwoordig te wees by die benoemingsproses van skool- en adjunkhoofde.
As die WKOD se bronpersone is hulle verantwoordelik om toe te sien dat die benoemingsproses volgens voorskrifte verloop en dan uiteindelik die finale dokumente af te teken voordat dit by die distrikkantore ingedien word.
Volgens die SA Skolewet (84 van 1996 Art 20) is skoolbeheerliggame (SBL) verantwoordelik vir die benoemingsproses.
Na ‘n deeglike proses maak die SBL ‘n benoeming van hul verkieslik drie prioriteit-kandidate aan die Onderwyshoof wat die enigste entiteit is om die benoeming as aanstelling te bekragtig.
Komiteestelsel
Skoolbeheerliggame by goed funksionerende skole, werk gewoonlik deur ‘n komiteestelsel. Genoemde wet Artikel 30 (1)(a) maak voorsiening hiervoor. Art 30 (1)(b) bepaal dat die SBL persone uit spesifieke kennisvelde van buite die SBL op komitees mag koöpteer.
So vestig SBL'e gewoonlik ‘n finansieskomitee en koöpteer bv. geoktrooieerde rekenmeesters om die finansies te bestuur.
Op dieselfde wyse word argitekte, sielkundiges, opvoedkundiges, ens. op relevante komitees gekoöpteer. Die wet plaas geen plafon op die gekoöpteerde kenner se bydrae in die komitee nie.
Dr. Hennie van der Westhuizen, afgetrede skoolhoof en kringbestuurder.
Benoemingskomitee
Wanneer ‘n vakature vir ‘n skoolhoofpos ontstaan, vestig die SBL ‘n benoemingskomitee (BK) met die opdrag om die benoemingsproses te hanteer. Die voorsitter van die BK moet ‘n lid van die SBL wees.
Hul eerste taak is om ‘n advertensie vir plasing in die vakaturelys te formuleer. Deesdae word ‘n baie generiese advertensie toegelaat. Die kriteria waarvolgens kandidate geselekteer word, word beskryf in die Personeeladministrasiemaatreëls (PAM), voorwoord van die Vakaturelys, SA Skolewet, en die ‘Government Gazette, 39827: Policy and standard of South African Principals’.
Volgens PAM A.7 punt 3 moet die skoolhoof ook voldoen aan ‘approaches and needs of the particular school’. Dit is dus noodsaaklik dat die SBL ‘n profiel saamstel van hul ideale kandidaat wat gesoek word.
Goed funksionerende skole kry insette van alle belangegroepe (opvoeders, ouers, nie-opvoederpersoneel en in hoërskole ook die leerders) om genoemde profiel te formuleer.
Nadat die Vakaturelys gepubliseer is, kan belangstellende kandidate voor die gepubliseerde sluitingsdatum aanlyn by die WKOD aansoek doen.
Intussen moet die SBL ‘n gedetailleerde benoemingsprotokol saamstel wat in teenwoordigheid van die kringbestuurder goedgekeur word. Hierdie dokument behoort te beskryf:
• Wie op die benoemingkomitee sal dien
• Wat hul opdrag is
• Tydraamwerk
• Alle aksies wat deur die benoemingskomitee hanteer sal word
• Seleksiekriteria wat gebruik sal word
• Oplossings vir alle moontlike uitdagings tydens die proses
• Hoe die finale besluite geneem sal word bv konsensus, stemming, punte behaal
• Bekragtigingsvergadering waartydens die benoemingskomitee hul aanbeveling aan die SBL voorlê vir bekragtiging.
Foto: Pexels
Kortlystingsvergadering
Tydens die kortlystingsvergadering is die kringbestuurder verantwoordelik om al die aansoekers se besonderhede af te laai om as harde kopie gedruk te word.
Die kandidate wat kwalifiseer, word dan deur die benoemingskomiteelede aan die hand van voorafbepaalde kriteria verminder tot verkieslik vyf kandidate wat vir onderhoude genooi sal word.
Onderhoudkandidate word almal aan dieselfde assessering onderwerp.
Punte word aan kandidate toegeken volgens hul reaksie, kennis, vaardighede wat tydens die onderhoud ten toon gestel word.
Onderhoude hoef nie net die tradisionele verbale gesprek te wees nie. Verskeie onderhoudelemente soos vraelyste, rekenaartake en toesprake mag bykomend gebruik word. Gemelde aspekte is kwantitatief van aard.
Nie-kwantitatiewe aspekte soos die vooraf saamgestelde profiel (PAM A,7) en terugvoer van referente word ook in ag geneem. Alle inligting word deur die BK gebruik ten einde hul prioriteitskandidate te identifiseer vir benoeming.
Benoemde kandidate word deur die Onderwysdepartement verplig om die WKOD se sogenaamde ‘Competency Based Assessment’ (CBA) af te lê.
Die inligting hieruit verkry word aan die SBL gekommunikeer. Indien die kandidaat onbevoeg bevind word, sal ‘n aanstelling nie gedoen word nie.
Indien die kandidaat egter bevoeg is, sal tekortkominge wel uitgewys word. Die SBL kan dan besluit of die sg tekortkominge wel vir hul skool relevant is.
As alle dokumente volledig en korrek ingedien is en geen prosesfoute begaan is nie, behoort die Onderwyshoof die aanstelling te bekragtig.
Aangesien die kringbestuurder die benoemingproses monitor, behoort die aanstelling vinnig bekragtig te word.
Lees 'n brief oor die onderwerp hier.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’