Dr. Hennie van der Westhuizen, George:
Met verwysing na die artikel, (WKOD verduidelik vertragings in aanstellings George Herald, 7 Februarie 2024).
Die SA Skolewet (Wet 84 van 1996, Art 20(i)) bepaal dat skoolbeheerliggame (SBL) verantwoordelik is vir die benoeming van opvoeders. Die onderwyshoof doen die aanstellings.
Art 30(1)(a) bepaal dat beheerliggame komitees mag saamstel om spesifieke funksies uit te voer. Alle goed funksionerende SBL'e funksioneer hiervolgens.
Art 30(1)(b) bepaal dat die SBL, persone wat nie SBL-lede is nie, maar kenners in 'n spesifieke veld is, op komitees mag koöpteer. So koöpteer suksesvolle SBL'e gewoonlik rekenmeesters, argitekte, sielkundiges, prokureurs en ander om as kenners op spesifieke SBL-komitees te dien.
Die wet plaas geen limiet op die bydrae/insette/rol van die kenner wat gekoöpteer word nie.
Voorskrifte bepaal dat die kringbestuurder as WKOD-bronpersoon verantwoordelik is om die benoemingsproses van skool- en adjunkhoofde by 'n skool te monitor. Kringbestuurders is ervare onderwyskenners met ervaring in die benoemingsproses. Hulle oordeel kan met vertroue aanvaar word. Onderwysunies word ook na die proses genooi en is meestal teenwoordig.
As afgetrede skoolhoof en kringbestuurder was ek volgens genoemde wet op verskeie benoemingskomitees gekoöpteer. In dié hoedanigheid kon ek bydra om etlike suksesvolle benoemings deur die WKOD as aanstellings bekragtig te kry.
Bronagh Hammond gee 'n verduideliking in die George Herald van 7 Februarie 2024 oor die vertragings van aanstellings in die Eden/Karoo-distrik. As wettig gekoöpteerde lid van die benoemingskomitees van twee van die genoemde hoogs funksionerende skole, kan ek eerstehands rapporteer dat die berig nie die volle beeld van die situasie skets nie.
Ek reageer graag op genoemde berig.
1) Waarnemende skoolhoofde is inderdaad aangestel. Belangrik egter is dat waarnemende hoofde, selfs al is hulle briljant, steeds waarnemend is. Die skool is effektief dormant totdat 'n nuwe hoof aangestel is.
2) Die verwysing na onvolledige dokumentasie (verwys ook George Herald van 2 November 2023) sou dan vierkantig voor die WKOD self gelê moet word aangesien die kringbestuurder as senior departementele amptenaar die dokumentasie afteken! Die kringbestuurders met wie ek gewerk het, is eenvoudig te deeglik om hierdie verweer van die WKOD te aanvaar.
3) Volgens die berig is die WKOD nie bewus van poste van 2022 wat nie gevul is nie. Pos 1361 van Vakaturelys 3/2022 is nog nie gevul nie.
4) Die berig verwys verder daarna dat departementshoofde op skoolvlak hanteer word. Skole het nie die jurisdiksie om departementele aanstellings te maak nie. Feit is dat die SBL ook hier verplig is om dieselfde prosedure te volg as vir skoolhoofde. Die enigste verskil is dat kringbestuurders nie verplig is om die vergaderings by te woon nie. Die SBL maak ook hier slegs die benoeming, maar die hoofkantoor doen die aanstelling.
Verdere bekommernisse word geskep deur die feit dat die WKOD nie met SBL'e kommunikeer nie. Die voorsitter van een van die genoemde skole, wat nou reeds langer as 'n jaar wag op 'n aanstelling, het self aangebied om op eie koste Kaapstad toe te reis vir 'n afspraak om redes vir die vertragings te vind. 'n Afspraak is hom geweier.
Ek self (as amptelike lid van benoemingskomitees) het ná sewe skrywes aan die WKOD nog geen antwoorde op vrae ontvang nie.
'n Verdere kernaspek is die WKOD se verpligte 'CBA'- toetse (bevoegdheidstoetse) vir alle benoemde kandidate. In beide skole wat ek hierbo suggereer het die WKOD aan die SBL terugvoer gegee dat die kandidate wel bevoeg is. Kan dit wees dat die WKOD nie sy eie assessering vertrou nie?
Die situasie word in perspektief geplaas as die publiek kennis neem dat 'n absolute betroubare bron aandui dat daar einde Oktober 2023 slegs 21 van 256 skoolhoofposte wat in die drie vakaturelyste geadverteer is, afgehandel was.
Millecent Merton van die Wes-Kaap Onderwysdepartement (WKOD) antwoord soos volg:
Dr Van der Westhuizen beweer dat die WKOD nie met beheerliggame kommunikeer oor die aanstelling van skoolhoofde nie. Tog, soos hy self erken, bestuur die kringbestuurder, 'n senior WKOD-amptenaar, die proses.
As 'n voormalige skoolhoof en kringbestuurder behoort dr. Van der Westhuizen te weet dat die kringkantoor die naaste kontakpunt tussen die skool en die provinsiale onderwysdepartement is. Die kringkantoor bied 'n kommunikasiekanaal tussen die distrikskantoor en skole. Dit is dus nie nodig vir die voorsitter van 'n beheerliggaam om na Kaapstad te reis nie, aangesien ons verteenwoordigers op kring- en distriksvlak het.
Dr Van der Westhuizen verkies om slegs op die bevoegdheid van kandidate te fokus en nie noodwendig die werklike redes vir moontlike vertragings met die aanstelling van skoolhoofde nie. Redes vir vertragings kan onder meer onvolledige dokumentasie wat ingedien is en prosedurele en/of substansiële gebreke in die proses insluit.
'n Skoolhoof wat anoniem wil bly, het die volgende opmerkings gemaak:
- Ek glo nie 'n skool is dormant met 'n waarnemende hoof nie.
- Alhoewel die kringbestuurder die dokumentasie afteken, kan daar steeds foute wees.
- Terugvoering is nie altyd vinnig van die WKOD nie, maar dit gebeur wel binne hul eie raamwerke.
(Lees 'n artikel van Dr. Van der Westhuizen oor die aanstellingsproses van skoolhoofde en departementele hoofde by www.georgeherald.com.)