Update
GEORGE NUUS - Drie nuwe fynbosspesies, wat verlede jaar deur die plantkundige dr. Brian du Preez, 'n boorling van George, as deel van sy PhD-tesis beskryf is, groei in die Outeniquaberge.
Hy het nou nog 'n mylpaal bereik deur hierdie drie spesies in die South African Journal of Botany te publiseer.
Hulle ressorteer onder die genus Indigofera (I) en is gedoop I. outrampsii, I. outeniquensis en I. semota. 'n Verdere agt nuwe Indigofera-spesies word ook in Du Preez se artikel beskryf.
Vir die oog van die leek lyk die drie spesies se blommetjies baie dieselfde, maar daar is 'n opmerklike verskil in hulle blaarvorm.
Du Preez het nie self enige van die drie in die veld ontdek nie, maar hulle wel as nuut herken deur herbariumwerk en foto's te bestudeer.
Hy en sy medewerkers het vier jaar saamgewerk om 140 spesies van die Kaapse Flora-streek te versamel om te bestudeer.
"Ek het toe tussen 2019 en 2022 al my teikenspesies in die veld gaan versamel om te help bevestig dat hulle nuut is en om mooi foto's en vars materiaal te kry vir die plante se beskrywings, en om hul DNS in die hande te kry."
Hy is verheug oor die publikasie. "Ek kan uiteindelik die vrugte van my harde werk op papier sien. Dis 'n groot stuk werk, en al is daar nog baie om te doen, is ons 'n tree nader aan die einde."
Hy sê nie een van die drie spesies in die Outeniquas se voortbestaan word bedreig nie. Die semota is relatief wydverspreid en kom algemeen voor vanaf die verre oostelike Langeberge en in die Outeniquaberge tot by Knysna.
"I. outeniquensis se naam is gekies omdat die spesies feitlik endemies is aan die Outeniquaberge, behalwe vir 'n enkele populasie in die Kamanassieberge," sê Du Preez.
"Dit kom merendeels voor in die berge tussen George en Knysna, met die buiteliggende populasie op die Mannetjiesberg van die Kamanassie. Hierdie spesie is oorwegend in die George-area aangeteken, hoewel dit ook op sommige plekke verder oos gevind is, wat vir ons wys dat dit wyer verspreid is."
Indigofera outeniquensis
Die I. outrampsii kom voor in die George-distrik en die Bergplaas-bosbougebied. "Die naam gee erkenning aan die Outramps (Outeniqua Trampers) CREW-groep vir hulle bydrae tot plantbewaring in die Suid-Kaap en ook vir hulle mentorskap aan my."
Outrampsii is hoogs gelokaliseerd, maar in baie gevalle oorvloedig daar waar dit voorkom.
"Dit groei waarskynlik ook in ander dele van die Outeniquas wat nog nie behoorlik verken is nie. "Die populasies wat besoek is, was gesond en meestal vry van indringerplante," vertel Du Preez.
Indigofera outrampsii
Die 11 Indigofera-spesies wat in Du Preez se publikasie voorkom, is grootliks van die Tuinroete.
I. swartbergensis is van die Swartbergpas, I. sclerophylla is van Rooiberg en die Swartberge, I. calcarea is van die kalksteen naby Stilbaai tot Agulhas, en I. vlokii is van die Kougaberge naby Uniondale.
Indigofera semota
2de publikasie
In sy tweede publikasie tot dusver vanjaar, het Du Preez ook vier nuwe spesies van Aspalathus en drie herontdekte spesies van die Groter Kaapse Flora-streek beskryf. Twee van die nuwe Aspalathus-spesies kom in die Suid-Kaap voor.
"A. strigosa is die eerste nuwe spesie wat ek self in Desember 2013 ontdek het en was 'n katalis vir my loopbaan in die akademie," sê Du Preez.
"Die ander een is A. albomagifica wat in die Hartenbos-heuwels en Gondwana-natuurreservaat voorkom.
"A. albicephala is nie van die Suid-Kaap nie, maar dis 'n spesie van iewers op Gifberg wat ek eers moes gaan herontdek, aangesien dit net bekend was van 'n paar foto's uit die 1990's van 'n ou oom wat intussen oorlede is."
Du Preez sê hy gaan die grootste deel van vanjaar werk om nog baie meer nuwe Indigofera-spesies te beskryf.
"Daar sal bietjie minder van die Tuinroete wees, maar daar is nog 'n paar op pad van nabygeleë berge. Daarna gaan ek aan my navorsing oor Indigofera in die somerreënvalgebied begin werk."
Aspalathus strigosa
Aspalathus albomagnifica
Vorige artikels:
Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’