GEORGE NUUS - Wat veronderstel was om 'n lekker visvanguitstappie vir twee jong vriende te wees het Dinsdag 25 November in tragedie geëindig toe Androwwayne Keaton Prins (12) in 'n dam in Rosedale in Pacaltsdorp verdrink het.
Androwwayne, 'n leerder by Delville Park Primêr, het saam met sy oupa en ouma, Frans en Katrina May, in Rosedale gewoon. Volgens hulle is niemand presies seker hoe hul kleinseun verdrink het nie.
"Hy en 'n vriend het die middag gaan visvang, en volgens die vriend is dit daar waar hy verdrink het," sê Frans.
Sy ouma sê hulle sal hom onthou as 'n vrolike, speelse en vriendelike seuntjie met 'n groot hart.
"Hy was altyd gewillig om te help en jy kon hom enige tyd roep om 'n ietsie te gaan doen. Ons gaan hom bitter baie mis … Rus sag, my seun. Ons harte is baie seer. Hy het in soveel mense se harte gekruip, en die gemeenskap is geruk deur sy skielike heengaan."
Die Pacaltsdorp-polisie het na die voorval 'n dossier vir 'n geregtelike doodsondersoek geopen.
Volgens die Suid-Kaap-polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het die twee seuns gaan visvang toe Androwwayne onder die water verdwyn het.
Sy vriend het gehardloop om hulp te kry, maar toe hy terugkom, was dit reeds te laat.
Androwwayne se liggaam is uit die dam gehaal en paramedici het hom omstreeks 17:00 op die toneel dood verklaar.
Hy word Saterdag 6 Desember begrawe word. Finale reëlings moet nog bevestig word.
Polisie en toeskouers Dinsdagmiddag op die toneel. Foto's: Verskaf‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’