Gallery
GEORGE NUUS - 'n Jare lange droom van Hoërskool Outeniqua (Kwaggas) het verlede Vrydag-aand, 31 Oktober, 'n groot stap nader aan verwesenliking gekom toe die grond amptelik vir die nuwe Eeufeesentrum by die skool gebreek is.
Die moderne, multifunksionele sentrum sal op die terrein van die huidige netbalbane opgerig word en voorsiening maak vir sowat 2 000 sitplekke.
Die fasiliteit sal gebruik word vir sport-, kultuur-, eksamen- en sosiale geleenthede, asook vir groot byeenkomste en fondsinsamelings.
Volgens skoolhoof Christo Vorster, leef die droom vir 'n groot saal reeds baie jare by die skool.
"Ons leerders het laas in 1985 almal in een saal gepas. Ons huidige saal het eenvoudig te klein geraak. Daar is sysale aangebou, maar selfs dit het té klein geword. Ons droom is om elke leerling weer in een ruimte te kan saambring," sê hy.
Die Eeufeesentrum vorm deel van 'n groter uitbreidingsprojek wat sedert 2020 aan die gang is.
Dit sluit onder meer ekstra klaskamers, 'n kunssentrum, musieklokaal, rekenaarsentrum, navorsingsentrum, astrovelde en 'n vergrote gimnasium in.
Die bouwerk aan die sentrum, wat na raming meer as R20 miljoen gaan kos, begin in Januarie 2026.
Die projek word hoofsaaklik deur die skool, oudleerlinge en die privaat sektor gefinansier. Reeds in 2022 is daar met fondsinsamelingspogings begin, en volgens Vorster het die hele gemeenskap ingespring om te help.
"Hierdie sentrum gaan nie net die hart van die skool wees nie, maar ook 'n aanwins vir die hele George-gemeenskap," sê Vorster.
Raadslid Marias Kruger en Louis van Rensburg.
Skoolhoof Christo Vorster (middel) saam met sy vrou Karin, en oudonderhoof en -onderwyser, Chris Hattingh, by Vrydagaand se geleentheid. Foto's: Kristy Kolberg
Neil en Lindi Liebenberg.‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’