GEORGE NUUS - George-polisie het ’n dossier vir strafbare manslag geopen na die dood van ’n 31-jarige man, Hanlin Meiring, op Maandag 8 Desember omstreeks 20:30 op die N9 naby Agriland SSK op Herold.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder het ’n Toyota-passasiersvoertuig en ’n dubbelkajuitbakkie met ’n sleepwa glo in teenoorgestelde rigtings vanaf George en Uniondale gery toe een van die voertuie ’n koei getref het.
Die voertuie het daarna gebots.
“Die 31-jarige man het ernstige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar, terwyl die ander bestuurder beenbeserings opgedoen het,” sê Spies.
Meiring, ’n boorling van Uniondale, se vrou Enroline, het op sosiale media hulde aan hom gebring en haar skok en hartseer uitgespreek.
Sy het geskryf dat sy dankbaar is vir die mooi tye wat hulle gedeel het. Sy het bygevoeg dat sy hom altyd in haar hart sal dra en dat sy sal sorg vir hul kinders.
Die koerant het die oorledene se vrou vir kommentaar genader, maar sy het teen druktyd nog nie op boodskappe gereageer nie.
Die wrak van Meiring se voertuig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’