GEORGE NUUS - "Dr. Franklin Sonn, 'n brugbouer wat diep spore getrap het in die uitbouing en bevordering van die AHi (Afrikaanse Handelsinstituut."
Só beskryf dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi, Sonn wat op Saterdag 15 November aan vermoedelik 'n hartaanval in Kaapstad gesterf het. Sonn was 86 jaar oud. Hy het in 2002 president van die AHI geword en reuse-bydraes gelewer in sy termyn as president.
Cilliers het namens die AHi sy innige meegevoel aan Sonn se eggenoot, Joan, hul twee kinders, Crispin en Heather en sy breë familie uitgespreek.
Volgens Cilliers het Sonn 'n vername rol gespeel op verskeie lewensterreine. Hy het onder meer naam gemaak as opvoedkundige, gemeenskapsleier, 'n Suid-Afrikaanse ambassadeur in die VSA en ook as sakeleier. Hy het ook wyle pres. Nelson Mandela op ‘n persoonlike vlak geken.
Cilliers sê Sonn het as president van die AHi die leisels vasgehou in 'n belangrike tydsgleuf van die sake-organisasie en dit met sukses hanteer.
Cilliers het Sonn persoonlik geken en oor die jare verskeie gesprekke met hom gehad in George. Sonn het sterk bande met George gehad en hy het tye by sy huis in Fancourt deurgebring waar sy tuin hom baie na aan die hart gel? het.
“Wat my altyd sal bybly van dr. Sonn is sy omgee vir mense en gemeenskappe. Hy het wel die hoogste sport en verskeie prestasies bereik, maar hy het steeds nederig gebly.
“Sy afsterwe is ‘n enorme verlies. Sy deur het altyd oop gestaan. In ons gesprekke het ons gesels oor onder meer die toekoms van die AHi in die Wes-Kaap. Hy was ‘n voorstander van sakekamers in die landelike gebiede om ekonomiese aktiwiteite te organiseer. Dr. Sonn het hom beywer vir die ontwikkeling van gemeenskappe.
“Hy was ‘n baie reguit persoon in sy benadering. Wat opvallend was dat hy emosie kon uithaal in sulke gesprekke en hy het ‘n feitelike benadering gevolg. Die AHi eer hom vir sy bydrae in die groei van die organisasie.”
Lees vorige artikels:
- Voormalige SA ambassadeur dr. Franklin Sonn oorlede
- Daar is hoop vir die toekoms - dr. Sonn
- Op 'n mespunt, 'maar ons sal seëvier'
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’