GEORGE NUUS - Daar is drie uitstekende redes hoekom mens Ludwig Strydom se ope huis kunsuitstalling, Movement in Sculpture, behoort te sien.
Eerstens sal dit jou oë oopmaak vir die feit dat 'n boom nie dood is as dit omgewaai, gekap, gesaag of ontwortel is nie. 'n Vakman kan die hout omskep in 'n bruikbare meubelstuk, gebruiksartikel of kunswerk. Afhangende van die kwaliteite van die vakman, kan dít wat gemaak word, die boom se lewe tydelik of, menslik gesproke, vir ewig verleng.
Tweedens: Omdat die kunstenaar klaarblyklik nie 'n bemarker is nie, het mens hier nog die gulde geleentheid om 39 van sy werke bymekaar te sien, al is 'n hele paar van die beelde reeds verkoop en slegs teruggeleen vir die geleentheid.
En derdens die belangrikste rede: Ludwig Strydom is 'n beeldhouer om van kennis te neem.
Hy het die gawe om die beeld wat in die hout skuil, raak te sien; die vaardigheid om dit sigbaar te maak; en die deursettingsvermoë om dit moeisaam af te werk en vir ons genietbaar te maak.
Hy werk met inheemse hardehout soos olien en karee, wat moeilik is om te kerf, maar pragtig afwerk. Mens bly bewus van die rou hout waaruit die beeld te voorskyn gebring is. Dit getuig van Ludwig se liefde en respek vir die hout wat kom uit bome wat baie jare gegroei en met die natuur geworstel het om dit tot hier te bring. Beweging en balans is deurlopende kenmerke van al sy werk.
Dis te verstane as mens sy geskiedenis ken van terugslae met beroerte, verlamming en skade aan sy spraaksentrum. Kommunikasie deur sy handewerk is vir hom makliker as met die tong.
Dis moeilik om werke uit te sonder. Mens moet mooi kyk om die delikate balletdanser, getiteld Nijinsky, se fyn gesig raak te sien. Die olienfiguurtjie se perfekte balans en beweging is besonders. Die kareepapegaai praat met jou.
Die massiewe Phoenix - Out of the Ashes kom letterlik uit 'n vuur. Verskeie ander beelde, soos Small Bison en ander kom uit hout wat deur brand beskadig is.
Ludwig sê hy weet gewoonlik dadelik of 'n houtstomp potensiaal het. Party van die beelde sien hy onmiddellik daarin raak, ander kan maande of jare van saamleef en kyk neem om te ontdek.
Die pryse wat wissel van R3 000 tot R55 000 is billik, inaggenome die feit dat dit maande, soms jare neem om 'n werk te voltooi en dat dit geskep is deur 'n besonderse oog en hand.
Gaan kyk
Die volgende uitstalling is van Vrydag 13 tot Maandag 16 Desember. Strydom het 'n gedeelte van sy huis by 26 Caledonstraat in George omskep in 'n galery.
- Vrydag 13 Desember: 12:00 tot 18:00
- Saterdag 10:00 tot 18:00
- Sondag 10:00 tot 12:00
- Maandag 10:00 tot 15:00
Besoekers se kommentaar
- Ludwig Strydom's exhibition will leave you breathless! The sculptures he crafts, over many years, gives the wood he works with a new voice and life. The movement and detail is so interesting that one visit is just not enough to take it all in!
- Dit was 'n eer en voorreg om die uitstalling te kon sien. Kon nie baie praat nie, want was te veel geraak deur die prag. Trane het maar vlak gesit. Ludwig se kuns het my aan my hart geraak.
- It is fascinating to see how with each piece Ludwig has identified the potential within the wood to create a sense of awe, balance, power, rhythm, play, beauty or raw emotion.
- Brilliant! I very much enjoyed the exhibition. It was a wonderful creativity - a joy to view! I love the fact that each piece has it's own unique story behind it.
- Sy beelde beweeg. Dit leef. Mens verwag dat die otter enige oomblik van sy voetstuk gaan laat spaander en dat die langstertvoël sy pluime gaan uitskud.
Lees 'n verwante artikel: Open House exhibition this weekend
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'