GEORGE NUUS - Die ou Montagu-pas het nog altyd 'n sekere bekoring ingehou. Dalk omdat dit nie 'n goeie idee is om dit met 'n gewone sedanmotor te ry nie en dus lê die avontuur teen die berg se hange soos die spreekwoordelike wortel-voor-die-neus.
Maar, as ek mooi daaroor dink, is dit eintlik omdat die pas 'n stuk erfenis is, iets uit vervloë dae, toe mense nog 'n pad met die hand uitgekap het en 'n stokou klipmuur veiligheid moes verleen teen die diep afgrond.
Die portaal na hierdie roete begin aan die voet van die Outeniquapas. Die eerste paar kilometers is maklik, en enigeen kan dit maak tot by die Ou Tolhuis vir pannekoek en koffie. Die roete raak egter mettertyd nouer en klipperiger, en is lekker modderig na 'n reënbui.
Twee voertuie moet by tye 'n heen-en-weer-dansie uitvoer om 'n plek te kry waar albei kan verby seil.
Daar is hier en daar 'n plekkie waar 'n mens kan aftrek vir 'n klein piekniek.
Die roete neem jou al die pad tot by die aansluitingspad na Herold - 'n klein dorpie met groot hart. Ons het 'n kerk gesien (NG kerk Herold), Herold-wynlandgoed, Over the Mountain-gasteplaas, 'n windpomp en 'n dam, 'n verlate skoolgebou (Franklin Primêr) en plaashuise. Wat 'n fees.
Uit die boeke
Die pas is vernoem na John Montagu, 'n koloniale sekretaris van die Kaap in die 1840's, wat hom beywer het met die bou van paaie. In 1844 het sowat 250 gevangenes met die bou van die Montagupas begin en dit is in Desember 1847 vir die eerste keer oopgestel.
Voor die Montagupas 'n alternatiewe opsie gebied het, moes reisigers die Outeniquaberge oor die Cradockpas oorsteek. Dié tog het drie dae geduur. Die roete oor die Montagupas het destyds slegs drie uur geneem om te voltooi.
NG Kerk Herold
Die portaal na hierdie roete begin aan die voet van die Outeniquapas.
'n Geplooide bergkombers strek so ver die oog kan sien.
Tipiese plaastoneel in Herold. Foto's: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'