Update
GEORGE NUUS - 'n Pacaltsdorp-familie eis dringend antwoorde van die polisie na 'n motorongeluk in Beachweg op Saterdag 4 Junie.
Hulle wil weet hoekom daar net 'n botsingsverslag geopen en slegs ligte beserings aangemeld is, terwyl Avril Muller (42) ernstige beserings aan sy bene opgedoen het.
Muller is tussen twee voertuie vasgepen terwyl hy besig was om sy vrou, Nicky se BMW, wat naby Hoërskool Pacaltsdorp onklaar geraak het, aan sy bakkie te haak om weg te sleep.
Volgens Nicky het 'n groen Opel Corsa uit die rigting van George gekom en haar voertuig van agter met so 'n harde slag getref het dat dit haar man tussen die BMW en die bakkie vasgedruk het.
Hy moes Maandag 6 Junie 'n ses uur lange operasie ondergaan om twee frakture aan sy regterbeen met die hulp van penne te herstel.
Muller is twee weke gelede uit die hospitaal ontslaan. Hy herstel tans tuis, maar ervaar steeds baie pyn.
Voorlopige inligting wat na die ongeluk vanaf Pacaltsdorp-polisie ontvang is, het daarop gedui dat slegs ligte beserings opgedoen is en dat drie voertuie, 'n wit Colt-bakkie, 'n grys-kleurige BMW en 'n groen Opel Corsa in 'n kettingbotsing betrokke was.
"Ek is baie ongelukkig oor hoe die saak hanteer word. Ek was nou al telkemale by die stasie. Maandag is dit al 'n maand en nog niks het gebeur nie. Ek word net van bakboord na stuurboord gestuur," sê Nicky.
Suid-Kaapse polisie-woordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het by navraag bevestig dat daar geen kriminele saak geopen is nie. "Ek sal aanbeveel dat die beseerde persoon direk met die stasiebevelvoerder in verbinding tree en die nodige opvolg gedoen word met betrekking tot die opening van 'n saak en die aanvanklike hantering van die toneel," sê Pojie.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'