Update
GEORGE NUUS - As jy dink twee ure van kragonderbrekings is erg, wat van amper twee jaar. Dit is waaroor Vrydag 15 Januarie se protesaksie in Pacaltsdorp gegaan het.
Inwoners van die informele nedersetting, Moeggeploeg in Seaview, sê hulle het verlede Vrydag strate in Pacaltsdorp toegemaak omdat hul diensleweringskwessies nie aandag kry nie.
Die komende Maart sal hulle reeds twee jaar daar woon - sonder elektrisiteit.
Hulle het intussen begin om onwettige aansluitings na hul plakkershutte aan te lê. Die leierskap sowel as die inwoners sê hulle weet dis gevaarlik en onwettig, maar meen hulle het lank genoeg gewag, aangesien hulle kwessies nie aangehoor word nie.
George Herald het Vrydag met van die leierskap gesels wat vertel het dat sowat 80 gesinne hier woon. Hulle sê hulle moet tans van net vyf werkende toilette gebruik maak, omdat sewe uit die 12 onder vandale deurgeloop het.
Die gemeenskap hier sê dis onveilig in die aand omdat hulle glad nie 'n spreilig of enige beligting het nie.
Die leierskap sê hulle het bietjie meer as twee weke gelede 'n memorandum aan George-munisipaliteit se munisipale bestuurder per e-pos gestuur, waarin hulle al hul kwessies uiteengesit het.
Omdat daar geen reaksie daarop was nie, het hulle weer 'n protesaksie gehou om hopelik die keer die munisipaliteit se aandag te kry.
Die leierskap kon gedurende die naweek die inwoners sover kry om te kalmeer, maar baie was ontsteld omdat nie die bestuur van die munisipaliteit of die Pacaltsdorp-polisie opgedaag het om met hulle te kom praat nie.
Dit nadat daar aan die inwoners belowe is, as hulle sou verdaag, die bevelvoerder van Pacaltsdorp-polisie hulle klagtes sou aanhoor.
Die inwoners wou by die polisie weet wie het polisiebeamptes opdrag gegee om hul kragdrade te knip. Ooggetuies, wat in die informele nedersetting woon, beweer hulle het gesien hoe 'n lid van die buurtwag, vergesel deur 'n polisieman, die drade knip.
Dit is glo die tweede keer dat hul aansluitings afgeknip is, hulle het nie die eerste keer bewyse gehad wie dit gedoen het nie.
Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die leierskap van Moeggeploeg is meer as welkom om 'n formele klag by die Pacaltsdorp-polisiestasie in te dien, wat dan ondersoek sal word.
Pojie sê verder dat polisiebeamptes nie die mandaat het om onwettige kragdrade te knip of af te sny nie. "Dit val direk onder die jurisdiksie van die munisipaliteit se elektrotegniese dienste."
Athane Scholtz, kommunikasie-beampte van die George-munisipaliteit, sê hulle het nie 'n memorandum van Vrydag se protesaksie gekry nie.
Sy sê indien hulle wel so 'n memorandum van die gemeenskap ontvang, sal hulle binne sewe dae reageer.
Oor die memorandum wat meer as twee weke gelede per e-pos gestuur is, bevestig die munisipaliteit dat hulle 'n e-pos van die raadslid ontvang het en sê hulle het reeds daarop geantwoord.
"Geen melding is gemaak van toilette wat buite werking is nie. Dit kan by 044 802 2003 gerapporteer word.
"Die munisipaliteit is gekant teen enige vorm van onwettige aansluitings," het Scholtz gesê.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'