Gallery Update Video
GEORGE NUUS - George-inwoners het Maandagoggend, 30 Oktober, in hul duisende opgeruk om aan 'n vreedsame optog deel te neem om plaasaanvalle en -moorde op boere landwyd te veroordeel.
Met die Swart Maandag-veldtog wou die simpatiseerders bewustheid oor plaasmoorde skep.
"Ons plaasboere word daagliks uitgemoor en daar word absoluut niks daaraan gedoen nie.
"Daarom het Suid-Afrikaners van oor die land besluit om 'n dag soos Maandag te hou en ons stemme te laat hoor," het die organiseerder, Johan Swanepoel, aan die George Herald gesê.
Swanepoel sê hy behoort aan geen organisasie of politieke party nie, en het na aanleiding van verskeie videos en foto's op sosiale media besluit om dié byeenkoms in George te reël.
Kyk 'n video hier:
"Met al die korrupsie, moorde, verkragtings en rooftogte wat daagliks in ons land plaasvind wil ons 'n boodskap uitstuur: Suid-Afrikaners sal nou moet begin saamstaan ongeag hul velkleur.
"Ons wil elke persoon bedank wat swart gedra het. Dankie sê dat hulle saam met die gemeenskap hande gevat het."
Trekkers, vragmotors, motorfietse en bakkies. Almal was welkom.
Gebedsbyeenkoms op Herold
Gemeenskapslede van die Herold-omgewing het Maandagmiddag 'n gebedsbyeenkoms by die kruising waar die N9 na Oudtshoorn afdraai, gehou.
Sowat 100 mense het hande gevat en saam gebid.
Kyk 'n tweede video hier:
"Ons voel saam met almal wat onder misdaad en geweld ly. Daar is seker baie maniere om dit te benader, maar een opsie is om te bid en saam te staan," het Herold se NG Kerk dominee, ds. Gert Nothnagel, vandeesweek aan die George Herald gesê.
Soortgelyke byeenkomste is Maandag regoor die land gehou.
*Thousands of George residents took part a peaceful Black Monday protest against farm attacks and murders on Monday morning.
Die organiseerders beraam dat daar tussen 1 000 en 2 000 voertuie aan die optog deelgeneem het.
Lees 'n vorige artikel: Black Monday: Successful protest in George
ARTIKEL & FOTO'S: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'