Update
GEORGE NUUS - Die voortslepende twis oor die berugte 'dwelmhuis' en sy inwoners in Cathedralstraat, woed voort.
George Herald het in Mei vanjaar verneem dat kinders steeds op die perseel woon en berig oor beweerde waterdiefstal, vloekery, bakleiery, dwelmhandel en prostitusie by dié huis.
LEES MEER: Battle against 'drug house' continues
Inwoners en besigheidseienaars van Cathedralstraat het ook te kenne gegee dat daar pal op hul persele urineer en ontlas word.
'n Senior kommunikasiebeampte van die George-munisipaliteit, Athane Scholtz, het vandeesweek bevestig dat die wetlike proses voortgaan en stadig maar seker vorder.
"Soos per ons vorige antwoord, is dit 'n langsame en gekompliseerde proses waarvan die tydsraamwerk ongelukkig nie op hierdie stadium bepaal kan word nie," het Scholtz gesê.
Die sogenaamde dwelmhuis is reeds vir etlike jare 'n seer oog in die omgewing in die middedorp en volgens inwoners lei die toestand van die huis en die misdaad daaraan verbonde, nie net tot die waardevermindering van hul eiendom nie, maar dit veroorsaak ook dat klante verkies om elders besigheid te doen.
Die erf agter die bouvallige huis is vervalle en agterweë gelaat.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het bevestig dat hulle bewus is van die situasie en reeds verskeie arrestasies gemaak het.
"Ons het ook met alle betrokke rolspelers en departemente in gesprek getree in 'n poging om die uitdagings rakende die huis en sy inwoners aan te spreek," sê Spies.
Vorige artikels: