Update
GEORGE NUUS - Laerskool George-Suid het op Saterdag 19 Oktober 'n skoleskaaktoernooi by die skool aangebied. Karen Adendorff, 'n organiseerder sê dit is die vyfde jaar wat hulle die toernooi aanbied. Die toernooi het in 2015 met 46 leerders begin en vandag is daar 107 leerders wat deelneem.
"Dit is 'n ontwikkelings-toernooi en gee nuwe spelers die geleentheid om hulself teen ander skole te toets." Volgens Karen berei so 'n toernooi die o.9-speler goed voor vir die 2020-proewe.
Sy sê skaak hou soveel goeie voordele in en help geweldig baie met 'n kind se konsentrasie. Heidi Mostert, die voorsitter van George-skoleskaak, sê daar is drie proewe in George waar bepaal word watter kind die span haal. Daardie speler vorder dan tot in die Eden-skaakspan, dan provinsie en selfs nasionaal.
"Ons het al baie George-kinders gehad wat die SA span gehaal het."
George Swart, wat as arbiter opgetree het, sê die toernooi is net die ontwikkelingsfase. "Die eerste 12 borde speel streng vir ontwikkeling. Ons wil die kinders ontwikkel en aanmoedig om verder te gaan met skaak." Mostert en Swart het betrokke geraak deur hul kinders wat aan so 'n toernooi deelgeneem het.
George Swart (arbiter), Azriel Johnson (voorsitter Eden-skaak), Heidi Mostert (voorsitter George-skoleskaak) en Karen Adendorff (organiseerder).
Swart het verduidelik dat elke afdeling se spelers, afhangende van hul puntetelling, teenmekaar speel.
Azriel Johnson, die voorsitter van Eden-skaak, sê hulle het onlangs sowat 500 kinders by hul proewe gehad en meer as 'n 1 000 spelers uit die distrik.
Die organiseerders verduidelik dat skaak goedkoop is, maar ook duur kan raak. Soos die speler vorder, raak lesse duurder en is daar ook vervoerkoste en akkommodasie betrokke. Johnson sê hulle sal graag meer plaaslike borge betrokke wil kry wat kan help met die uitgawes.
Elke kind het 'n sertifikaat ontvang, asook die toptien spelers. Die topdrie spelers was Reinhart Prins (Laerskool George-Suid), Callan du Plessis (Laerskool Wesbank) en Ebert le Roux (Laerskool Blanco). Hulle het elk 'n medalje ontvang.
Lees 'n vorige artikel: George Laerskole skaaktoernooi het begin
Anke Labuschagne (in groen) van Laerskool Hartenbos diep in konsentrasie.
Achaza Pijoos (in blou) van Laerskool Denneoord moet strek om haar volgende skuif te maak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'